Soorte resepte:

Foto’s: Gemmerhuisie-projek ʼn groot sukses

Eerste prys Cornelia Campbell-Swart (Foto verskaf)

Annelien Pienaar, alombekende kosskrywer en voedselwetenskaplike, het vanjaar ʼn tradisie laat voortleef wat haar ma haar nagelaat het: ʼn gemmerhuisie-projek.

“Ek het mooi herinneringe van ʼn feestelike kombuistafel, gereed vir die maak van gemmerhuisies, -mannetjies, -sterretjies en vele meer,” vertel sy. “Ek onthou hoe ons drie dogtertjies met ons wit poniesterte in ʼn ry saam met ons niggies en nefies gelek, geplak en gespeel het.”

Toe die lesersgroep Boerekos met ʼn Twist op Facebook begin is, het sy dié gemmerhuisieprojek in 2014 van stapel gestuur saam met haar Geskenke uit jou koskas-klasse. “Dit is met verwondering wat ek elke jaar die huisies gadeslaan. Hierdie jaar was daar drie wenners en my hart is oorstelp van vreugde oor al die inskrywings. Elkeen wat ingeskryf het, was ʼn wenner en het iets kleins uit my aanlyn winkel ontvang.”

Volgens haar is die bou van gemmerhuisies ʼn hartstaak. “Ag jouself gelukkig as jy só ʼn handgemaakte geskenkie ontvang!”

Vir Annelien is die doelwit van die projek presies soos wat haar ma dit saamgestel het:

  • Om iemand ʼn vaardigheid te leer deur lesse in die resepte in te werk
  • Om iemand met ʼn huisie te seën wat dit nie verwag nie
  • En die belangrikste van alles: Om die hele gesin, familie en vriende om ʼn tafel te laat sit en herinneringe te bou van samesyn. Een van die reëls was juis dat ʼn persoon nie die taak alleen moet aanpak nie, maar dat die hele gesin betrokke moet wees.

Klik hier om die resep af te laai wat die lesers gebruik het.

Cornelia Campbell-Swart en haar familie (Foto verskaf)

Cornelia Campbell-Swart is as die algehele wenner aangewys. “Ons het besluit om ʼn hele dorpie te bou as familie sodat ons dit vir die kinderhuis kan gee,” het Cornelia oor haar inskrywing gesê. “Elke kind en paartjie het hul eie ontwerp gedoen. Oumie en Oupie het die kerk aangepak.” Weens reënerige weer kon die dorpie egter uiteindelik nie by die kinderhuis afgelewer word nie. Die koekies het te veel vog getrek en hulle het verbrokkel. “Ons het egter baie pret gehad en die mooiste herinneringe geskep.”

Tienie Wessels en Ella Fourie het in die tweede plek geëindig. “Ons huisie se verhaal het amptelik in November begin toe ek, my broer en my tannie ‘n WhatsApp-groep spesiaal vir hierdie nuwe tradisie/projek gestig het,” het sy geskryf. “In die Boerekos met ʼn Twist (BKT)-kookgroep het ons idees gedeel, tegnieke bespreek en hope prentjies bekyk. Daar was wondermooi huisies wat Hansie en Grietjie sou trots maak, en dan was daar huisies wat uitstaan as gevolg van ʼn enkele unieke element. Elke huisie het ons iets nuuts geleer!

Tweede plek Tienie Wessels en Ella Fourie (Foto verskaf)

“As mens reg voorberei, dan is die toekomstige flaters heelwat minder. Met almal se vrae op die BKT-groep het ek mooi geleer om nie die stroop te veel te kook nie, en dus was die eindresultaat perfek. Die deeg het in ‘n eerste huisie verander, en ons plaaswerkers het ‘n soetigheid vir Kersfees ontvang. Die oorskiet is gebruik vir ‘n mini-huisie wat op ʼn koffiebeker pas, en die res is natuurlik na die gehaltebestuur-afdeling, bestaande uit my broer se drie kinders en hul oupa. Volgens die terugvoering mag ons dit maar weer bak.”

Linda van den Heever se huisie het die derde plek gehaal. “Die projek het ek vir my enigste kleinkind gedoen.”

Derde plek Linda van den Heever (Foto verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.