Soorte resepte:

Foto’s: Lekkerbekkig in Elginvallei

South Hill se huisboot is verlede Desember amptelik ingewy. Alles is luuks en daar is waarlik niks waaraan eienaars Sandra en Kevin King nie gedink het nie.

Vir baie mense is ’n naweek weg die kans om die omgewing per fiets, te voet of te perd te verken. Ander kajak of zipline. Vir Maryke Roberts is dit oor die lekkerbekkigheid, die mense agter die bekende wynetikette en tyd om na die wolke te staar. En natuurlik om goeie wyne en kos te geniet, soos die Elginvallei maar te goed kan bied.

Die valleie tussen die Elgin-heuwels binne die Kogelberg-biosfeer, is bekend vir sy koel klimaat-wyne en dis juis hierdie koel klimaat, wat dit ook ideaal maak vir buitelugaktiwiteite.

Vriende het inderdaad hul kajakke en fietse saamgebring, want hierdie pragtige vallei is enige buitelugliefhebber se droom.

Elgin Vintners

Ek gooi laatmiddag die kombers uit op die groot grasperk voor Elgin Vintners se gastehuis. Die uitsigte oor die berge in die verte, die pragtige tuin en die blou wolke, sus my aan die slaap.

Elgin Vintners het in November ’n nuwe proelokaal geopen. Jy sit hoog bo die wingerde en vrugteboorde en teug aan hul wyne, terwyl die kinders op die tamaai grasperk van die gastehuis reg langsaan kan baljaar. As hulle eers die swaaie in die geheime feetjietuin ontdek het, is dit ure se saligheid – vir hulle én die grootmense!

Ons is gelukkig om die wynmaker, Marinda Kruger-Claassen, wat ook die sakebestuurder is, uit te vra oor al die nuwe dinge wat hulle aanvang. Dis nou tussendeur al die pryse wat haar wyne verower.

Die kelder het nie net ’n nuwe proelokaal met pizza’s vir luilekker dae nie, maar het ook pas die wyn-in-’n-blikkie bekendgestel: Fynbos Lite wat laer in alkohol (8,5%) en ’n derde laer in kilojoules is. Die blikkie is só mooi, jy wil dit nie platdruk en weggooi nie en is ideaal in jou rugsak op ’n staproete of met ’n piekniek in jou gunstelingreservaat. Daar is ’n rooi- en witwyn in dié reeks.

Die witwyn is ’n versnit van sauvignon blanc, viognier, sémillon en chardonnay. Die rooiwyn is ’n merlot- en shirazversnit. Elke blikkie hou ongeveer twee glase wyn.

Elgin Vintners is ’n Wêreldwye Natuurfonds (WWF)-bewaringskampioen, een van 45 omgewingsleiers in die Kaapse wynlande. Meer as 100 hektaar van die Elgin Vintners-plaas is onder bewaring en indringerplante word op volgehoue basis uitgeroei.

Ek gooi laatmiddag die kombers uit op die lekker groot grasperk voor Elgin Vintners se gastehuis. Die pragtige herehuis in die Kaaps-Hollandse boustyl wat uit die 1920’s dateer, is pas opgeknap in ’n vierstergastehuis met vyf dubbelkamers met koningsgrootte beddens, ruim leefvertrekke en deftige Victoriaanse badkamers. Die ure gly verby as jy in die pootjiesbad ontspan.

Die groot, wye stoep voor, luike voor die skuifraamvensters en kamers so groot soos my hele huis, herinner aan ouwêreldse sjarme, want daar is selfs ’n tennisbaan, fiets- en staproetes.

Daar is boeke en wyn en geselskap, maar dis die wit vlieswolke se patrone teen die blou lug wat my aandag gevange hou.

My geliefde en ons vriende gaan toets die swembadwater.

Ek lê soos ’n reuse-seester op my bont blokkieskombers. Dit was ’n geskenk van sjef Mynhardt Joubert tydens die eerste streng inperking. Ek het my toe voorgeneem dat ek al daardie verlore pieknieks én kuiers met vriende en goeie wyn sal inhaal. Nou reis die kombers op ons agterste sitplek saam en ek kyk wolke en boomtakke en plaasdamme waar ons gaan.

Toe die laaste deur by die proelokaal en restaurant gesluit is, die stofwolkies van die personeel se motors in die nou paadjies tussen wingerde en appelboorde gaan lê het, kom die tuin tot sy reg. Voëltjies wat heeldag behoedsaam agter blare geskuil het, kom grawe onder blombossies. Of trek lang wurms uit die gras of jag insekte bo laventelbosse of roosbome soos wafferse kamikaze-vlieëniers.

Dis nie moeilik om jou te verbeel jy is iewers in die Engelse platteland nie, veral nie as ’n peer of appel rooiwang uit die boorde in die verte hang nie.

Die blomme se geur kom stadig oor die werf. Die son trek goue lyne om boomtoppe en soos dit laer sak, word plante goudwangmooi. Die ligte briesie vou die toegeklapte sambrele se rantjies sagkens om soos die valle van ‘n danseres se rok.

Ons speel rolbal op die lieflike grasperk, terwyl ons aan die Merlot 2016 teug. Met ons proe vroeër die middag het ons besluit die Merlot 2016 is ons gunsteling. Met al die plakkers en pryse teen die bottel is ons skynbaar nie alleen in ons voorliefde nie.

Ons het pizza by die proelokaal bestel vir aandete. As jy nie lus is vir pizza nie, is daar lekker pieknieks of kaasborde, wat jy in die tuin kan geniet.

Soos te wagte van koel klimaat-bestemmings, is dit sommer lekker koel toe die son sak. Ons maak kaggel in die sitkamer almal lê-sit voor die televisie en kyk flieks tot ounag.

Die volgende oggend, ná ontbyt in die eetkamer, verdwyn elkeen in ’n rigting. Die plaaspaaie tussen die wingerde en appel- en peerboorde roep die fietsryers en stappers; die stoep met sy oggendsonnetjie lok my 90-jarige pa met sy boek en as bonus kry hy nog ’n koppie stomende koffie ook.

Ons “besige program” tydens ons verblyf, behels slaap, swem, lees, kuier of eet wat die droomverlore ure vul. Ons besef weer die waarde van gesels, van samesyn en die buitelug. Hoe vars lug en wolke wat oor jou kop dryf, as jy op ’n lappieskombers lê, stadig maar seker die batterye herlaai.

Almenkerk

Die indrukwekkende Almenkerk-kelder en -proelokaal sit hoog teen die heuwel. ’n Lekker rolbalbaan is onder die bome. Agterop ons glase is die woorde “Liquid Architecture”.

Een middag ry ons uit na Almenkerk vir ’n wynproe, saam met Famous Moeketsi. Daar kan jy die vier vlagskipwyne proe vir R60 of die drie Lace-wyne vir R40. Die plaas behoort aan ’n Belgies-Nederlandse familie, wat in 2001 na Suid-Afrika verhuis het en in 2004 die plaas gekoop het. In 2005 is die eerste wingerde geplant en vyf jaar later het Joris van Almenkerk die eerste wyne gemaak. Tans is 15 hektaar onder wingerd en 15 hektaar onder vrugteboorde, maar die hele plaas beslaan 100 hektaar.

Die indrukwekkende kelder en proelokaal sit hoog teen die heuwel en ’n lekker rolbalbaan onder die bome trek ons aandag. Op ons glase is die woorde “Liquid Architecture” en met die ontwerp en dekor van Almenkerk, was daar beslis iemand met ’n baie goeie ontwerpersoog aan stuur van sake.

Famous vertel dat die vallei bekend is vir sy sauvignon blanc, chardonnay en pinot noir, maar dat die Almenkerk Syrah die plaas in die kollig geplaas het, toe dit in 2019 by die internasionale Concours Mondial de Bruxelles uitgeblink het.

Gaste kom vra natuurlik om dié wyn te proe en sit dan onder die bome met hul piekniek en geniet die ervaring, wat ewe goed iewers op die Italiaanse platteland kon afspeel.

Die Van Almenkerk-familie het ook ’n regte Belgiese brasserie in Die Strand, teenaan die see, waar jy heerlike Belgiese geregte met hul bekroonde wyne kan geniet.

Dis die chardonnay waarmee ons afskeid neem. Veral nadat Famous, wat al verskeie ander kosverwante beroepe beoefen het, voorgestel het dat dit die ideale pasmaat is vir klewerige varkribbetjies of ’n lekker speseryagtige dis.

South Hill Vineyards

Daar is peuselborde met vleis-, vis- groente- en kaaspeuselborde en daaglikse spesiale disse.

Later in ons besoek, arriveer ons by South Hill Vineyards se restaurant. Die kaggeltjie brand, want daar het ’n paar reëndruppels geval en die lug is grou. Marlon Abrahams is ons kelner en hy vryf sy hande en glimlag behaaglik toe ons klaar nesgeskop het en sê: “Hoor hoe lekker gesels die vuurtjie saam met julle!”.

Daar is vleis-, vis- kaas- en groente peuselborde, maar die daaglikse spesiale disse op die swartbord is ons keuse. Die kos is verruklik, en terwyl ons middagete bestel, kyk ek sommer ook na die aandete-opsies, want met die reënweer gaan ons nie braai wanneer ons later op die plaas se nuwe huisboot intrek nie.

Die plaas was eers ’n ongebruikte appel- en peerplaas genaamd Jan Niemandsbosch, voor die Kings ná heelwat navorsing, grondmonsters en insae van konsultante, die regte druifkultivars aangeplant het. Hul eerste oes was in 2006 en die wynmaker, Sean Skibbe, is sedert daardie eerste oesjaar deel van die span. Baie van hul druiwe word jaarliks deur van die land se voorste wynkelders opgeraap en South Hill maak ook hul eie wyne onder verskeie etikette: South Hill, Kevin King en King of the Hill.

Ons proe van hul wyne saam met ons kos en koop ’n lekker verskeidenheid vir verskillende disse, geleenthede en klimaatstoestande.

South Hill se huisboot is verlede Desember amptelik ingewy, maar as jy aan boord gaan, voel dit of jy die heel eerste gas is. Alles is luuks en daar is waarlik niks waaraan eienaars Sandra en Kevin King nie gedink het nie. Kevin se seun, Nick, bestuur saam met Sandra die akkommodasie op die huisboot en die pragtige villa neffens die restaurant.

Hy kom wys waar alles is, hoe alles werk en belowe om met skemer die aandete te bring, dat ons dit net in die oond kan warm maak. Ons pak weer kaggel – dié keer langs die eetkamertafel, waar ons nou aan die South Hill Syrah teug en kaartspeel.

Buite in die ligte misreëntjie sit nat voëls op die boomtakke en klein duikertjies swem tussen die wondergroot waterlelies deur. As die weer opklaar, kan jy met die kajak op die dam roei, of in die koel water afkoel. Op die dek is daar twee gemaklike poefs – net die plek om jou boek te lees.

Die reën sus ons aan die slaap en die paddakoor is die nag se vermaak.

Vroegoggend begin die trekkers in die grondpad anderkant die dam ry met werkers op sleepwaens agterna. Daar is altyd werk in die wingerde en boorde en ons hoor die vrolike geskerts en geknip-knip van snoeiskêre wat jong lote tem.

Ons eet Sandra se tuisgemaakte muesli met heuning en vrugte en kyk hoe ’n kwikkie ligvoets op die lelieblare stap en muggies vang. Die ontbytmaak in die pragtige kombuis voel glad nie soos werk nie en gou sit ons met spek en eiers en moerkoffie en uitkyk oor die water. Jy kan ook in die restaurant gaan ontbyt eet, maar ons is lui en slof sommer in ons pantoffels op die boot rond.

Iona Wines

Elke Iona-etiket is interessant en het ’n interessante storie.

Laatoggend ry ons met die kronkelende pad tussen die wingerde, plaasdamme, vrugteboorde en denneplantasies uit Iona Wines toe. Andrew Gunn neem ons deur hul indrukwekkende wyne en vertel dat Iona hoog teen die heuwels, nader aan Kaapstad is as wat Franschhoek is.

“Ons is lekker sentraal hier en jy kan ook met die kuspad verby Bettiesbaai en Kleinmond na ons toe ry – oor die heuwels en jy is hier.”

Ons sit by ’n lang houttafel en gesels en proe. Niks is styf en formeel nie en gou voel hulle soos ou vriende.

Andrew – ’n ingenieur – het die plaas, Geelbeksvlei, in 1997 gekoop en vertel dat hy sy merk gemaak het in die korporatiewe wêreld as iemand wat besighede kon omswaai na winsgewend. Sy droom was egter nog altyd om ’n plaas te besit. Toe hy die plaas koop, was die appelplaas baie verwaarloos, maar ’n pragtige Herbert Baker-huis het oor die vallei gewaak.

“Ek het gou besef ek kan nie die plaas herplant nie, want dit sou ’n fortuin kos. Ek het dit oorweeg om te verkoop, maar begin toe naslaan oor wynmaak en sien toe die koel klimaat is ideaal vir fenoliese rypheid, met ander woorde laer suiker en dus hoër alkohol.

“Ons is so naby aan die see en ons hoogte bo seespieël – 420 meter – saam met die windjie, maak ons temperature heerlik koel. Ons het hierdie tamaai lugversorger op ons stoep,” gesels hy. Hy sê Elgin is die koelste wynstreek in Suid-Afrika en Iona die koelste plaas in Elgin.

Toe Andrew wingerde daar begin aanplant, was dit net Dr. Paul Cluver van De Rust-landgoed wat wyn geproduseer het. Hy het baanbrekerswerk gedoen en as’t ware die vallei as wynbestemming gevestig, vertel Andrew.

Andrew is later met Rozy Whitehead, ’n kunstenaar, getroud, wat ook haar eie klein wynplaas met tien hektaar Rhone-kultivars daar naby het. Tussen die twee plase maak hulle verskeie wyne, waaronder die bekroonde Iona-reeks, die gewilde Sophie Te’Blanche (die bynaam vir Sauvignon Blanc), Solace, One Man Band en die bekroonde Mr. P Pinot Noir.

Die wyne dra swaar onder al die toekennings en is baie uiteenlopend in styl. Andrew glo in minder bottels, maar uitstaande kwaliteit en skroom nie om eerder nie ’n wyn te maak as die druiwe nie topgehalte is nie.

Hy hou ook van die filosofie dat die wingerd die held is. Dit, terwyl die Suid-Afrikaanse wynbedryf gewoonlik die wynmaker vereer. Oor die jare het bekende wynmakers hier gewerk: Niels Verburg van Luddite en Jean Smith van Boekenhoutskloof. Werner Muller, wat voorheen by Chamonix was, is nou die wynmaker.

Die wynetikette spreek van hul liefde vir kuns, die natuur en die hele wynmaakproses. Verskeie idees en filosofieë word op die uiteenlopende etikette weerspieël. Die One Man Band-beeld buite, wat deur die beeldhouer Bruce Arnott gemaak is, is op die uitsonderlike rooi versnit.

Tans is die plaas se 2016-oesjaarwyne te koop. Andrew vertel dat hulle nie hul wyne te gou vrystel nie. Daar is goeie bottelveroudering ook. Terwyl ons wag dat die groot plaashek oopswaai, sien ek in my truspieëltjie hoe ’n man een van die sewe vrylopende hoenders onder die arm het, om dit terug te neem na die hokke toe, waar dit lekker beskut kan slaap.

Ons groet etlike ure later. Andrew stop ’n boks wyn in my man se hande. Een daarvan is hul bekroonde chardonnay, wat Andrew glo dié groot witwyn van die wêreld is.

“Dit sal my laaste glas wyn wees voor ek my kop neerlê,” gesels hy.

Daar is geleenthede by die South Hill-huisboot om in die water tussen die lelies te dryf, jou hand te waag aan roei op die dam, of om net die son te sien ondergaan.

Laatmiddag kom ’n ligte windjie oor die dam op. Dit maak amok onder die waterlelies. Die blare waai verkeerde kant om en die blomme lê half windskeef.

“Die wind krap nou ons Monet-skildery deurmekaar,” merk my man droog op, terwyl hy die vuur pak op die grasbank langs die vasgemeerde boot.

In die fluitjiesriet woel dit van die voëls. Die dam is omring deur wingerde, wat op ’n steil helling staan. Ek is altyd verstom oor die wonderlike reis wat ’n druiwetros onderneem tot dit weer op die plaas neffens die wingerde as wyn in jou glas pronk. Dit gee my ook weer opnuut waardering vir die harde werk en toewyding van ’n wynmaker én die besef hoe belangrik die natuur in die hele proses is.

Met varknek drink ons Iona se Mr. P. Met skaaptjoppies en die bekende Grabouw-boerewors die volgende dag, drink ons weer South Hill se Syrah, waarvan ons ’n boks in die kattebak het.

Ons kyk hoe die reiers en kolgans en bleshoenders en tarentale kom nesskop vir die nag. Op die draad van ons boot na die wal, maak vier blouswart swaeltjies reg vir die donker. Hulle sit doodstil en plat en rond op die dun draad. Hul lyfies amper een met die draad. Ons werskaf binne, maar dit skrik hulle glad nie af nie.

Die dae vloei inmekaar tussen die wynproeë, visvang, lees, kaartspeel en kosmaak. Saans sit ons op die huisboot se dak en kyk na die sterre en drink van die vallei se lieflike wyne. Om ons is die eb en vloei van die boerdery aan’t gebeur. Van ligdag tot skemeraand is daar iets om te doen.

Ons laaste oggend eet ons ontbyt by South Hill se proelokaal. Dis sonnig en warm en ons sit buite en kyk uit oor die grasperk. ’n Gesin speel kroket, hul skoene eenkant uitgeskop. In die labirint stap vriende en hoe verder hulle stap, hoe stiller word hulle, soos die vrede van dié ervaring in hul kuite kom sit.

Dis daardie vrede wat die vallei in my skoot kom lê het, wat saamgaan huis toe.

Drie dinge wat jy nie moet misloop as jy Elgin besoek nie:

  • Die brandewyn-ervaring by Oude Molen: Die sjokolade- en brandewynproe kos R70: Saam met die XO proe jy klappersjokolade; met die VSOP perske, en met die VS haselneutsjokolade. Jy kan ook die distilleerervaring teen R150 doen, waar jy die hele produksieproses van Kaapse brandewyn op video kan sien en die rabatwyn, onverouderde brandewyn én die finale verouderde produk kan proe. Die rondstap tussen die eikehoutvate waarin die brandewyn verouder, is ’n magiese ervaring en om aan Big Bertha, die pragtige koperketel waarin hierdie brandewyne gestook te word, te vat, is ’n groot voorreg. Selfs Suid-Afrikaners wat brandewyn ken, sal beslis hier iets kan leer oor hoe jy hierdie handgemaakte goue vloeistof as teugdrankie kan geniet.
  • Die Elgin Railway Market wat beslis in een van die mooiste art deco-geboue in ons land gehuisves word. Ry trein uit Kaapstad of kom in jou eie motor.
  • Die Cape Canopy Tour-zipline was een van ons gunstelinge onder almal in die land. Daar is 13 platforms waarvan die langste glydeel 320 m lank is en meer as 30 sekondes duur asook ’n swaaibrug oor die dubbele waterval. Dit bied ’n unieke uitsig op die natuur.

Kitsfeite

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.