Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Bevrore brooddeeg

(Foto: Annelien Pienaar)

Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist, sê sy poog altyd om volhoubare resepte aan lesers te gee – een daarvan is brood!

Deur self brood te bak sny jy preserveermiddels uit en verseker ook dat jou gesin gesond bly. Hierdie is een van my staatmaker Boerekos met ’n Twist-resepte en ek deel graag my passie vir brood so met jou, die leser.

Vir my as werkende mamma is dit belangrik om altyd brooddeeg in my vrieskas te hê, veral omdat dit gesonder is en die brood binne drie ure op die tafel kan wees. Jy kan klaar die brood vorm en in sy pannetjie vries, dit net uithaal, ontdooi, laat rys en bak.

Warm en verruklike aromas sal die huis vul. Vir variasie kan pampoensaad en/of sonneblomsaad by hierdie deeg gevoeg word teen 100 g of 1 k, en dan ook 1 k gaar koring.

Ek gebruik foeliebakkies vir die vries van die deeg. ʼn Mens kry klein foeliebroodpannetjies en die deeg sal dan genoeg wees vir drie brode. Jy kan die brood ook in ’n gewone broodpan vries, maar die deeg moet uit die pan gehaal word na 24 uur wanneer dit hard is.

Ouer panne gaan mettertyd begin roes. Ek stel dus voor jy voer die broodpan uit met kleefplastiek wat gesmeer is en sodra die brood gevries het, lig dit uit die pan en draai goed toe. Sodra dit tyd is vir gebruik, haal die brood uit, maak oop en sit dan in dieselfde pan en volg die instruksies. Jy kan enige vorm brood bak!

Lewer ongeveer 1,2 kg deeg of 2 groot brode.

Bestanddele

  • 375 g (1 ½ k) melk, lou warm (23 °C). As jy jou vinger indruk, moet die koue net-net weg wees.
  • 80 ml (5 ½ e) heuning of molasse
  • 10 ml (2 t) sout
  • 60 ml (4 e) botter
  • 20 g kitsgis (2 pakkies)
  • 125 ml (1/2 k) lou water (23 °C)
  • 840 g (6 k) volkoringmeel
  • 1 eierwit
  • 1 e melk

Metode

  1. Meng die melk, heuning, sout en botter saam en roer sodat sout en heuning kan oplos. Botter hoef nie gesmelt te wees nie. Die hitte van jou hande tydens die knieproses sal dit laat smelt.
  2. Sprinkel die kitsgis oor die water en voeg so 2 e van bogenoemde melkmengsel by en los om te hidreer vir 5 minute, meng goed deur en los nog 5 minute om te begin skuim.
  3. Meng al die bestanddele saam en knie vir 5 minute, rus 15 minute, knie vir 5 minute en rus nog 15 minute. Die deeg sal begin rys en moet dan in twee stukke verdeel word.
  4. Druk die deeg met jou hande so breed soos die panne en rol dan soos ’n rolkoek liggies op en plaas in gesmeerde panne.
  5. Sodra jy brood wil bak, haal jy die bevrore deeg uit, sit in gesmeerde pan, ontdooi en laat rys tot dubbel die volume. Dit kan enige iets tussen 2-3 ure wees.
  6. Meng eierwit met melk en smeer die brode se bokante. Moenie die mengsel oor die brood en die pan se rand laat loop nie. Dit sal verhoed dat die brood hoog rys. Sprinkel met sade en bak dadelik. Moenie hierdie tipe brode bo-op sny nie, dit kan plat val. Wees ook versigtig vir te veel rys, want die brood kan daarom ook plat val.
  7. Bak groot brode by 180 °C vir 45-60 minute.
    Bak bolletjies wat gevorm is in foeliebakkies (6 per bakkie) vir 35 min by dieselfde temperatuur.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.