Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Biltong-en-kruiekoekies

Biltong-en-kruiekoekies (Foto: Annelien Pienaar)

“Hierdie koekies is ʼn gereelde stapel vir die Pienaars vir piekniek, langpad reise en kosblikhappies. Die raklewe is lank en die koekies kan ook met sukses gevries word,” sê Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Lewer ongeveer 60 x 5 cm koekies

Bestanddele

  • 225 g koekmeel, gesif
  • 50 g fyn biltongpoeier (of vervang met parmesaan of sesamsaad effe gerol om oop te breek)
  • 2,5 ml (½ t) bakpoeier
  • knippie koeksoda
  • knippie sout
  • 2,5 ml (½ t) kerriepoeier (of vervang met gegeurde sout)
  • 80 g botter (of bakkersmargarien met 80% vetinhoud – minder as 80% en die koekies gaan versprei en nie vorm behou nie)
  • 30 ml (2 e) vars kruie van keuse (tiemie, basielkruid, roosmaryn, dille, origanum, sprietuie, kerrieblare, salie)
  • 1 t grof gemaalde peperkorrels (of gedroogde rissies grof gekap sonder sade (opsioneel, maar my gesin is baie lief vir peper en dit vertoon ook mooi)
  • 3 groot eiergele (die eierwitte kan gevries word in ʼn sakkie en dan later vir meringues gebruik word)
  • 2-3 e melk indien die beslag te droog mag wees en krummel

Metode

  1. Voor verhit oond tot 200 °C en spuit 2 x 45 cm x 60 cm bakplate met kossproei.
  2. Sif koekmeel, bakpoeier, sout, koeksoda, kruie, kerriepoeier en peper saam. Plaas dan die bestanddele in voedselverwerker. Voeg die botter by werk die meel totdat die botter ingewerk is en die mengsel soos growwe mieliemeel lyk.
  3. Voeg die res van die bestanddele by (eers net 1 e melk) en draai die lem weer sodat die vog deeglik deur gewerk word. Die mengsel sal ’n deeg vorm wat een worsie om die lem maak. As dit nie gebeur nie moet jy nog 1 e melk byvoeg totdat dit gebeur.
  4. Keer die mengsel uit en knie liggies om een bol te vorm. Druk plat en verkoel vir 30 minute. Onthou die geheim is om so koud as moontlik te werk.
  5. Rol die deeg tussen twee velle bak- of waspapier. Deur op hierdie manier die deeg uit te rol gebruik jy nie ekstra koekmeel nie en die deeg kan weer uitgerol word sonder dat dit te droog word. Rol ongeveer 3 mm dik uit en druk vormpies van keuse of sny in driehoekies.

Variasie: Rol deeg uit en rasper kaas oor en vou die deeg toe, rol weer effe plat, sny in repe en rol dan die repe in stokkies of draai dit en bak dan vir kaasstokkies.

  1. Plaas vormpies op bakplaat en smeer met ’n mengsel van 1 eiergeel met 50 ml melk gemeng. Sprinkel met ekstra biltong of kruie of sade soos verkies.
  2. Bak vir 10 minute en laat afkoel op draadrakkie.
  3. Stoor in lugdigte houers in die vrieskas vir tot 6 maande.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hieronder in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.