Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Boerebeskuit

Boerebeskuit (Foto: Verskaf)

Boerebeskuit is deel van ons koskultuur en een van my gunstelingbederfhappies vir my gesin. Ons het ’n gebruik tuis om ’n pannetjie warm nat beskuit te breek en saam met ’n glasie melk te geniet. Elkeen het ʼn hoekie wat hulle s’n is en dit is maar ʼn gestoei om my filistyne se dermpies gestop te hou. Die veertjie tekstuur is kenmerkend van hierdie beskuit en die bestanddele baie ekonomies. Die proses word binne etlike ure voltooi.

Voordat ons begin wil ek ʼn dieper kykie gee in die geheimenisse van gis. Jy het seker al gemerk op die winkelrakke vind ons kitsgis (sulke fyn, grys spikkels), brouersgis (grys korrels) en dan bakkersgis (nat, grys, kleiagtige gis).

Hierdie drie gissoorte bevat almal die fungi genaamd Saccharomyces cerevisiae wat die brood laat rys. Dit is ʼn vinnig werkende gis; waar ons met suurdeegplantjies werk, is die fungi wat daar aktief is sy boetie genaamd Saccharomyces verguus. Dit is ʼn stadiger gis, maar gee ongelooflike smaak en geur saam met die bakterie wat teenwoordig is.

Nou waarvoor is al hierdie soorte gis wat ek genoem het? Rys kitsgis vinniger as ander? Nee, kitsgis is so geformuleer om direk in die meel gebruik te word sonder om dit vooraf te hidreer en te aktiveer. Die kitsgis los dadelik op, maar laat die brood nie vinniger rys as ander gis nie.

Brouersgis het ʼn sterker en kenmerkende smaak, soos ouma se boerebrood. Die korrels word vooraf gehidreer met effe lou water en ʼn knippie suiker om as kos vir die gisselle te dien. As die gis dan aktiveer, sal ʼn pragtige skuimbaard vorm. So ongeveer twee vingers hoog na 10 minute en dan weet jy hierdie gis is lewendig.

Jy kan hierdie tegniek ook vir bakkersgis gebruik, maar ook om te toets of jou kitsgis aktief is. Maak altyd seker as jy gis gebruik deur eerder vooraf te hidreer en die skuimeffek te sien. Neem van jou mengwater (100 ml) en ʼn knippie suiker, meng en sprinkel gis oor en roer dan goed deur om op te los. Gebruik dan soos resepte voorskryf.

Dit is belangrik om gis baie versigtig te hanteer t.o.v. bêre en gebruik. Wanneer jy jou aankope doen, bêre die gis in jou koelsak en bêre dit dan in die vrieskas of yskas in lugdigte houers. Hitte sal baie skade aan die gis veroorsaak oor ʼn lang tydperk en dus ook in jou warm motor se kattebak.

Maak seker as jy nie botter kan gebruik nie en eerder margarien aankoop, dat die vetpersentasie altyd vir gebak bo 80% is. Minder as 80% beteken daar is x hoeveelheid meer vog teenwoordig en dit kan probleme met gebak gee.

Boerebeskuit

Bestanddele

  • 1,5 liter water
  • 800 g wit suiker
  • 250 g margarien of botter
  • 3 ekstra groot eiers
  • 30 ml gis van jou keuse
  • 2,5 kg koekmeel
  • 25 ml sout
  • 100 ml anys (opsioneel)

Metode

  1. Voeg die res van die water, suiker en margarien in ʼn kastrol en verhit die bestanddele tot onder kookpunt. Roer te alle tye sodat die suiker kan oplos. Sodra die suiker opgelos het, verwyder van die plaat en laat afkoel tot 27 °C.
  2. Neem 1 k water en los die gis en 1 t suiker daarin op en hou eenkant. Hierdie mengsel moet ʼn skuim vorm voordat dit in die mengsel gebruik word.
  3. Sif die koekmeel en sout saam. Maak ʼn holte in die meel en voeg die gismengsel in die holte.
  4. Meng die eiers in die afgekoelde botter‑ en suikermengsel en klits goed deur. Voeg ook by die meelmengsel en knie vir 10 minute totdat die deeg glad is.
  5. Laat die deeg vir 30 minute staan en knie weer goed deur. Laat die deeg dan rus sodat dit verdubbel in volume. Onthou om die deeg te alle tye dig toe te hou met ʼn stukkie kleefplastiek wat met olie gesmeer is. Bedek met ʼn kombersie om warm te bly. Die binnekant van jou oond met die oondliggie aan is die perfekte “broeikas” vir die deeg as dit winter is. Of ʼn warm kol in die huis. Hierdie deeg moet in volume verdubbel en groei. Dit sal enige iets van 60 minute tot 3 ure neem na gelang van die temperatuur.
  6. Sodra die deeg genoegsaam gerys het, kan die deegbolletjies gevorm word. Ek werk per bolletjie op 60-80 g elk. Hierdie deeg lewer ongeveer ses piesangbrood-grootte pannetjies; 3 x 7 bolletjies in ʼn pan. Onthou om die panne te smeer of met kleefwerende sproeimiddel voor te brei.

Wenk: Sodra die panne gevul is, skat met die oog hoe hoog die deeg in die pan is. Maak ʼn merk vir die dubbel volume hiervan en wag dan sodat die deeg daardie merkie bereik. Dan eers mag jy die deeg bak. Onthou om die deeg te alle tye bedek te hou.

  1. Voorverhit die oond na 180 °C en bak dan vir 45 minute. Die warm beskuit word dan met ʼn suikerstropie gesmeer van ʼn halwe koppie water gekook met ʼn halwe koppie suiker vir drie minute in die mikrogolf en roer elke minuut om suiker op te los. Keer die beskuit uit om goed af te koel voordat dit in skywe gebreek word met die hand.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.