Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Brosbroodkoekies

Brosbroodkoekies (Foto: Annelien Pieanaar)

Die geheim van hierdie koekie is die bestanddele wat by kamertemperatuur gebruik word. Botter maak die beste koekies omdat die melksuiker wat nog in die botter teenwoordig is, ’n egte botter-karamel smaak aan die koekie verleen.

Ek het onlangs ’n studie gedoen oor bakkersmargarien en bevind dat ʼn mens maar moet kyk wat agter op die etiket geskryf staan. Jy moet na ’n vetinhoud van 80% kyk, want laer as dit gaan daar meer vog in die margarien wees en nie die gewenste resultaat lewer nie.

500 g botter of ʼn goeie kwaliteit bakkersmargarien met 80% vetinhoud, moet sag en by kamertemperatuur wees. Indien jy vergeet het om die smeer betyds uit te haal kan jy dit rasper om vinniger sag te word.

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Bestanddele

  • 210 g (1 k) strooisuiker
  • 500g botter of 80% vet bakkersmargarien
  • 700 g (5 k) koekmeel
  • 20 g (3 e) mielieblom
  • ekstra strooisuiker vir sprinkel

Metode

  1. Voorverhit oond tot 190 °C en berei bakplate voor met silikoon bakkersvelle.
  2. Room die botter en strooisuiker saam tot baie lig en donsig en die suiker opgelos is. Neem jou tyd hier want die tekstuur van die koekie bepaal hoe lekker of sleg dit gaan wees. Ek werk op so 10 minute met ʼn handklitser en 8 minute met ʼn staanmenger. Vir staanmengers gebruik die K-haak van begin tot einde.
  3. Voeg geurmiddel van keuse by. Sien die variasie onder indien jy geure wil inbring. Klop goed deur.
  4. Voeg die koekmeel en mielieblom wat vooraf saam gesif is by. Meng met die menger totdat die deeg bymekaarkom.
  5. Haal uit en knie liggies vir 1 minuut met die hand om eenvormig te kry. Bedek en rus vir 30 minute.
  6. Rol ongeveer 1 cm dik uit sonder meel op die oppervlak. Die deeg is olierig en jy kan die vormpies met ’n messie lig.
  7. Sprinkel die koekies met ekstra strooisuiker. Bak vir 10-15 min in oond.

Nota: Vir die doel van die foto het ek die deeg in baie klein lang worsies gerol en op ʼn koue bakplaat gesit om hard te word en dan weer terug in die vrieskas. Dan in wiele gesny en so gebak. Hierdie deeg is wonderlike speeldeeg vir klein handjies wat lief is vir speel saam met jou in die kombuis.

Variasie: Meng 10 ml suurlemoenskil met 2 t suurlemoensap of voeg 10 ml van enige geursel by.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.