Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Grenadella-koek

Grenadella-koek (Foto: Verskaf)

“Hierdie koek bestaan uit ’n basiese botterkoekbasis om sodoende die grenadellapitte vas te hou in die beslag sodat dit nie na onder sak tydens die bakproses nie. ’n Sponskoek is nie geskik vir hierdie resep nie,” sê Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

“Ek gebruik vars grenadellas en wanneer die seisoen genoeg vruggies lewer, dan word die pulp gevries. Dit is net soveel smaakliker en geuriger. Loer gerus op my webtuiste vir ’n bakkersklas vir spesialiskoeke vir die fynere kunsies van koekbak.”

Die versiersel is ’n roomkaas-en-botterversiersel wat gemaak word en dit word met gelatien verstewig om sodoende nie loperig te word nie. Hierdie versiersel is nie te soet nie. Kom ons begin.

Bestanddele

  • 230 g (1 k) botter of bakkersmargarien, kamertemperatuur
  • 400 g (2 k) wit suiker
  • 2 jumbo eiers, kamertemperatuur
  • 280 g (2 k) koekmeel
  • 1 e (15 ml) bakpoeier
  • 500 ml (2 k) melk
  • ½ k grenadellapulp
  • 1 t vanieljegeursel

Metode

  1. Voorverhit oond tot 180 ℃ en smeer twee ronde panne met ’n deursnee van 23 cm.
  2. Klits die botter en suiker saam tot romerig vir ongeveer vyf minute. Indien jy vergeet het om die botter of margarien by kamertemperatuur te laat kom, kan jy dit rasper. Neem die mengbak waarin jy gaan klits en plaas dit eers in warm kraanwater. Droog af en klits soos normaal.
  3. Voeg die eiers een vir een by en klits weer goed deur.
  4. Sif die koekmeel en bakpoeier saam. Vou die meel en melk, pulp en vanieljegeursel by die eiermengsel in met ’n draadklitser. Skep in gesmeerde oondbak en bak vir 30-40 minute tot gaar in die middel.
  5. Laat die koek goed afkoel voordat dit versier word. Ek laat die koek gewoonlik vir ’n dag lank in die yskas staan om geur te ontwikkel. Sodoende is dit ook baie makliker om die koek te versier en maak dit minder krummels.

Roomkaasversiersel

Bestanddele

  • 200 g botter of bakkersmargarien met 80%-vetinhoud, kamertemperatuur
  • 500 g versiersuiker, goed gesif
  • 1 t vanieljegeursel
  • 150 g roomkaas
  • 10 ml gelatienpoeier in 50 ml kookwater opgelos

Metode

  1. Klits die botter tot romerig en voeg dan eers die versiersuiker, vanielje en roomkaas by. Klits tot lig en donsig.
  2. Voeg die effe lou gelatien by en klits weer tot lig en donsig. Spuit met ’n 5 mm‑spuit bolletjies versiersel op die koek en plak die lae so aan mekaar. Die koek se twee lae kan halveer word om sodoende ’n vierlaagkoek te verkry.
  3. Hou die koek vir ’n uur in die yskas vir die gelatien om in die versiersel te set. Hierdie versiersel is nie te soet nie en heerlik saam met die smake van die koek. Vul dan die dammetjie bo-op die koek aan met ekstra grenadella-moes.

Besoek Annelien Pienaar se webwerf en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae