Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Lagiesbrood

Lagiesbrood (Foto: Annelien Pienaar)

Ons is baie lief om lagiesbroodjie te maak as ons gaan kamp of vakansie hou. Die vulsels kan varieer van soet tot sout. Jy kan basies enige deeg vir hierdie resep gebruik. Verder kan jy die sout- en soetbroodlagies verwerk in die allerheerlikste Franse roosterbrood!

Annelien Pienaar is ʼn voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

BROOD

Bestanddele

  • 1 kg koekmeel
  • 10 g sout
  • 25 g suiker
  • 40 g melkpoeier (enige soort, onthou egter dat koffieverromers nie melkpoeier is nie)
  • 10 g kitsgis
  • 65 g botter
  • 1 eier, liggies geklits
  • 550 g louwarm water, (g en ml vir water werk dieselfde uit. Maar om akkuraatheid vir die resep te verseker weeg ek vir goeie resultate altyd die water.)
  • 100 g bloukaas of gorgonzola (opsioneel as vulsel vir die broodbolletjies)

Metode
1. Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter met jou vingerpunte in.
2. Meng die water en eier by en meng totdat al die bestanddele goed gemeng is. Laat staan sonder om verder te knie vir 15 minute sodat die deeg sterker glutendrade kan vorm. Dit vergemaklik ook die knieproses.
3. Knie die deeg vir 8 minute totdat die deeg glad en elasties is.
4. Plaas in ’n bak wat met olie gesmeer is (as jy ʼn deksel gebruik maak, smeer die deksel ook). Maak seker die bak is groot genoeg vir die deeg om dubbel sy volume te rys. Verdeel die deeg sodra die deeg dubbel sy volume gerys het, ongeveer na 30 minute.

VULSEL

Bestanddele

  • 1 koppie suiker
  • 3 e kaneel
  • 5 e botter of margarien, gesmelt
  • 1 x streusel-mengsel (sien p. 43van Boerekos met ’n Twist-kookboek) (opsioneel)

Metode

  1. Voorverhit oond tot 180 °C en smeer 3 of 4 piesangbrood-grootte pannetjies.
  2. Sodra die deeg deur die eerste rysfase gegaan het, verdeel in 70 g-bolletjies. Sprinkel die werksoppervlakte baie liggies met koekmeel om die deeg op uit te rol of met vingers plat te druk.
  3. Druk of rol die deeg ongeveer die wydte van die pan. Die deeg moet effe ovaal wees en net-net by die pan se rand uit steek. Jy gaan die lagies wat jy rol elkeen met botter smeer, met die suikermengsel sprinkel en dan streusel-mengsel as jy verkies. So 12 velle op mekaar behoort die pan vol te kry. Tel die deeg oor in die pan. Kyk hier na ʼn video oor presies hoe dit gedoen moet word.
  4. Laat rys vir 30 minute en smeer ʼn glanslagie van 1 eierwit geklits met 3 e melk en knippie suiker oor.
  5. Bak vir 35-45 minute tot bruin en gaar. Laat vir 10 min in pan afkoel, ontvorm en laat verder afkoel op ʼn afkoelrakkie.

GLANSLAAG

Sodra die broodjie kamertemperatuur bereik het, maak die glanslaag aan. Hierdie glanslaag moet nie vooraf gemaak word want dit sal stol en krummels maak.

Bestanddele

  • ½ k versiersuiker
  • 1 e suurlemoensap
  • ½ t suurlemoenskil gerasper (opsioneel)
  • 1 t water (om meer vloeibaar te maak indien verkies)

Metode

  1. Meng alles saam en giet oor die brood, rond af met ’n sprinkel neute.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.