Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Miljoenêrskoekies

Miljoenêrskoekies (Foto: Annelien Pienaar)

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Hierdie brosbroodbasis is heerlik en veerlig met dekadente lae tuisgemaakte karamel en sjokolade. Ek is ʼn bietjie oordadig en gebruik Belgiese sjokolade om hierdie happie mee af te rond. Ander bakkersjokolade sal ook geskik wees, maar neem in ag dit is wel baie hard. Daarom het ek die alternatief gegee om olie of botter by die gesmelte sjokolade te voeg sodat dit nie te hard set nie.

Lewer sowat 24 blokkies

Bestanddele

Brosbroodbasis

  • 225 g botter of goeie kwaliteit bakkersmargarien
  • 330 g koekmeel
  • 100 g strooisuiker

Karamellaag

  • 175 g botter of goeie kwaliteit bakkersmargarien
  • 175 g strooisuiker
  • 4 e gouestroop
  • 397 g kondensmelk

Sjokoladelaag

  • 200 g Lindt-sjokolade of enige ander goeie kwaliteit sjokolade
  • 1 e botter

Metode

Brosbroodbasis

  1. Voorverhit die oond tot 160 °C. Smeer ’n rolkoekpan en hou eenkant.
  2. Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en meng totdat die mengsel een bol vorm. Druk in die voorbereide rolkoekpan en prik die oppervlak met ’n vurk.
  3. Bak vir 30 – 40 minute tot ligbruin.

Karamellaag

  1. Plaas al die bestanddele in ’n kastrol wat nie maklik aanbrand nie. Roer die mengsel oor lae hitte totdat die suiker opgelos het. Kook die mengsel dan en roer. Sodra dit kook, verlaag die hitte na medium en kook vir tien minute totdat die mengsel verdik het.
  2. Giet die karamel laag bo-op die gebakte koekie laag binne-in die pan. Plaas vir ’n uur in die yskas om te set voordat die sjokolade laag oor gegiet word. Daarna mag dit nie weer yskas toe nie.

Sjokoladelaag

  1. Verhit die sjokolade oor ’n dubbelkoker: Die water in die kastrol moenie die bak raak nie en die water in die kastrol moet liggies kook. Plaas die fyngebreekte sjokolade in die bak en roer tot gesmelt.
  2. Voeg die botter by en roer goed deur. Indien jy nie botter het nie kan 1 e sonneblom olie ook gebruik word – nie margarien nie. As dit gebeur dat die sjokolade een bol vorm omdat daar dalk ’n stoomdruppel ingekom het, verhit met ’n eetlepel olie of botter en roer om weer smeerbaar te maak.
  3. Skep die sjokolade oor die karamel laag en smeer glad. Laat die sjokolade rus totdat jy sien dit is effens geset en geskik om te sny. As dit te hard geset het, is dit moeilik om te sny. Voel maar dat dit reg is, want as die sjokolade te hard geset het, sal die karamel uitloop as jy hard moet druk en sny. As dit gebeur het, sal jy maar met ʼn dunlemmes wat in kookwater gedoop word moet sny. Stoor in lugdigte houer en nie in die vrieskas nie.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.