Soorte resepte:

Annelien se kombuis: ‘Milkybar’-sjokoladesplinterkoekies

‘Milkybar’-sjokoladesplinterkoekies (Foto: Verskaf)

“Hierdie koekies is krakerig en bros met die heerlike smake van Milkybar-sjokolade wat trou met die vanielje-en-jogurtversiersel,” sê Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Bestanddele

  • 230 g botter of bakkersmargarien met 80% vetinhoud (moet kamertemperatuur wees)
  • 200 g wit suiker
  • 2 ekstragroot eiers, kamertemperatuur
  • 280 g koekmeel
  • 25 g mielieblom of kakao vir bruin koekies
  • 5 ml koeksoda
  • 160 g hawermout (oats)
  • 200 g sjokoladesplinters
  • 15 ml vanieljegeursel
  • 2,5 ml sout

Metode

  1. Verroom die botter en suiker saam vir 5 minute tot lig en donsig, voeg eiers een vir een by en klits deeglik tot romerig ná elke byvoeging. Voeg laaste die vanieljegeursel by.
  2. Sif die koekmeel, mielieblom/kakao, sout en koeksoda saam. Voeg die res van die bestanddele by en meng goed deur.
  3. Meng die droë en nat bestanddele saam en laat rus die mengsel vir 30 minute in die yskas sodat die deeg kan styf word. Meet daarna met ’n lepel 15-30 ml van die mengsel af en druk plat. Jy kan met ’n roomyslepel of selfs groot maatlepel hopies vorm en dan net effe plat druk met die vingers. Hierdie koekies versprei as dit bak. So laat ongeveer 3 vingerspasies tussen die koekies.
  4. Bak by 190 °C vir 15 minute of tot mooi ligbruin om die kante maar wit in die middel. Hoe langer jy bak, hoe brosser en hoe korter jy bak (bv. 10 minute), hoe meer klewerig! Albei kante toe is dit heerlik.

Jogurtversiersel

Die kombinasie van die jogurt se suur met wit sjokolade is en bly seker een van my gunstelingkombinasies. Hierdie doopsous kan vir ’n verskeidenheid koekies en vele meer gebruik word. Die geheim kom in by die smelt van die sjokolade en die verhouding van jogurt tot die res van die bestanddele. Onthou, omdat jy met wit werk, kan die sjokolade met gewone voedselkleursel in ’n verskeidenheid kleure gemaak word. Ek het onlangs hierdie mengsel oor oliebolle en wafels gebruik vir ’n piekniek … wel die res is geskiedenis!

Bestanddele

  • 200 g (1 k) egte witsjokoladesplinters (ek verkies couverture-sjokolade soos Callebaut)
  • 125 ml gewone jogurt (jy kan gegeur gebruik, maar dit moet die gladde soort wees en sonder vrugte, anders gaan die mengsel klonte maak en skif)
  • 650 g (5 k) versiersuiker

Metode

  1. Smelt die sjokolade oor ’n dubbelkoker waarvan die bak waarin jy die sjokolade smelt nie die water raak nie. Die water in die onderste kastrol moet saggies prut. Gebruik verkieslik ’n glasbak. Indien jy waaghalsig is (ek besit nie ’n mikrogolf nie) kan jy die mikrogolf gebruik. Dit is egter ’n kwessie van 5 draaie en stop, roer en draai tot gesmelt. Jy mag nie jou rug op daardie bak draai nie.
  2. Meng tussendeur die jogurt met die versiersuiker. Dan, met ’n draadklitser klop jy so vinnig as wat jy kan die sjokolade by tot glad. Doop die koekies en laat dan eenkant om te stol.

Wenk: Onthou, hierdie mengsel gaan vinnig kristalle vorm op die oppervlak. Indien jy dit wil bêre om weer te gebruik, stel ek voor om dit in ’n lugdigte sakkie te plaas, al die lug uit te vryf sodat dit plat lê met geen borrels. So sal jy die kristalle kan keer.

Ek moet bieg, soms gebruik ons hierdie sous vir wafels, malvalekker-braai en vele meer as die bevlieging vir iets soets sy nek uitsteek. Dan moet jy natuurlik ook nie die “100’s & 1000’s” vergeet nie!

Besoek Annelien Pienaar se webwerf en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.