Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Outydse soetkoekies

Outydse soetkoekies (Foto: Annelien Pienaar)

Ek het met hierdie koekies grootgeword en my ma sou net hier en daar ’n nuwe geur en tekstuur bygevoeg om die koekie iets uit ’n ander wêreld te maak. Wat ek baie van die deeg geniet is die fluweelagtige gevoel. ʼn Mens kan net nie ophou vroetel met die deeg nie. Selfs rou is hierdie deeg sommer heerlik.

Die deeg kan ook in ’n rol gevries word en dan in skywe gesny word en direk gebak word. Die raklewe in die yskas is tien dae, so vir kleuterskole is hierdie ’n wonderlike resep om te gebruik.

Omdat hierdie deeg met baie botter gemaak word, is dit raadsaam om die deeg eers vir 30 minute in die yskas te laat rus.

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en die skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Wenk:

Wanneer ek enige soort deeg voorberei van pastei, tert tot koekiedeeg doen ek die volgende: Plaas ʼn bakplaat vooraf in die vrieskas. Neem kleefplastiek en vorm die deeg in ’n reghoek van ongeveer ’n halwe A4-grootte. Vou die deeg toe en rol met koekroller mooi eweredig en draai om en rol weer. Plaas die deeg op die yskoue bakplaat en plaas dan in die yskas om vir 30 minute te rus. Die koue van die bakplaat sal die botter ʼn hupstoot gee om gou weer ferm te word. Draai die deeg na 15 minute om.

Lewer 50 koekies

Bestanddele

  • 115 g botter of bakkersmargarien
  • 200 g wit suiker
  • 1 eier
  • 30 ml melk
  • 5 ml geursel: karamel, suurlemoen, vanielje, sjokolade, koffie is heerlike variasies
  • 350 g koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 2 ml sout

Metode:

  1. My grootste geheim by die maak van koekies en versiersuiker wat baie botter in kry: Rasper die botter as dit te hard is of as jy vergeet het om dit betyds uit te haal. Klits dan die botter eers sonder enige byvoeging tot dit egalig en glad is. Dit neem ongeveer vyf minute om by daardie stap uit te kom. Stop die klitser as die spaantjies aangepak raak en die botter vassit. Krap uit en klits verder.
  2. Voeg nou die suiker by en klits die mengsel tot lig geel en donsig – dit neem ongeveer vyf minute. Voeg nou die eier, melk en geursel by en klits weer tot lig en donsig.
  3. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en voeg by die eiermengsel. Roer die mengsel met ’n houtlepel om ’n bol te vorm. Druk die deeg liggies aan mekaar en vorm in reghoek soos in teks beskryf.
  4. Rus die deeg vir 30 minute en rol ongeveer 3mm tot 5mm dik uit. Plaas die koekies ongeveer twee vingerspasies uitmekaar op ’n gesmeerde bakplaat en bak vir 8-10 minute by 180 °C.

Variasies:

  • Sjokoladekoekies: Haal 60 ml koekmeel uit die resep en vervang met 60 ml kakao. Nog ʼn variasie is 60 ml kakao plus 100 g sjokoladesplinters by stap 3.
  • Klapperkoekies: 60 ml klapper en amandelgeursel by stap 3.
  • Suurlemoenkoekies: 15 ml suurlemoenskil en vervang melk met suurlemoensap en voeg by stap 3.
  • Milo-koekies: Voeg 60 ml by stap 3.
  • Speserykoekies: 2,5 ml kaneel, 1 ml gemmer, 1 ml neutmuskaat en 100 g fyn pekanneute by stap 3.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Lyk lekker.
Ek het grootgeraak deur Outydse Soetkoekies te leer ken met die Mixed Spice/Naeltje variasie. Vier geslagte (ten minste) het ons Soetkoekies so leer ken. My eerste keuse van ‘n koekie, tweede daardie Rice Crispies/Grondboonbotter Crunchies.
Interessant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.