Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Portugese vlatertjies (Pastel de nata)

Portugese vlatertjies (Foto: Verskaf)

Kind wees in die Skeerpoortvallei was vol tradisionele geregte van die gemeenskap. Ons gemeenskap het sy ontstaan gehad danksy ʼn sendingstasie vir die Duitse gemeenskap in ons vallei. Toe kom die Nederlanders, Italianers, Engelse, Skotte, Indiërs en Portugese. Ons was met almal bevriend en so het my nuuskierigheid oor kos die oorhand gekry.

Só sê Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Portugese vlatertjies is, soos die naam aandui, ʼn eiervla wat gebak word. Tradisioneel word vanieljepeule en -sade in die melk gekook, afgekoel en dan gedreineer. Maar ek doen nie die dreinering nie, ek hou van die tekstuur van die sade. Ek het in die resep vir julle die variasie van geursel of vanieljepeule gegee.

Lewer 24 porsies

Bestanddele

  • 210 g (1 k) strooisuiker
  • 60 ml (4 e) mielieblom
  • 800 ml volroommelk
  • 15 ml (1 e) vanieljegeursel of alternatiewelik 1 vanieljepeul, saadjies geskraap
  • 6 e sagte botter
  • 2 heel eiers
  • 4 eiergele
  • 200-300 g skilferkorsdeeg

Metode

  1. Plaas suiker en mielieblom in ʼn kastrol en meng baie goed met ʼn draadklitser. Voeg die melk by en roer goed deur. Giet die mengsel deur ʼn sif en plaas terug in die kastrol.
  2. Verhit die mengsel oor medium hitte totdat dit verdik en hou aan roer met ʼn draadklitser. Sodra die mengsel kook, haal van die hitte af. Klits vanielje en botter by. Laat goed afkoel en klits die eiers by.
  3. Giet weer deur ʼn sif in ʼn maatbeker in.
  4. Smeer ʼn stukkie kleefplastiek met olie en druk op die vla. Laat goed afkoel.
  5. Voorverhit die oond tot 230 °C en smeer twee kolwyntjiepanne.
  6. Rol die deeg ongeveer 45 cm by 30 cm uit en smeer met baie sagte botter soos vir ʼn toebroodjie. Rol die deeg op en verkoel vir 20 minute.
  7. Deel die rol in 12 ewe groot stukke en sny in kwarte deur sodat die spirale sigbaar is. Druk die spirale in die holte van die kolwyntjiepan in. Vul met eierbeslag. Bak vir 25 minute.
  8. Haal uit kolwyntjiepanne en laat op draadrakkie afkoel sodat die kors heerlik bros bly.

Wenk: Indien jy ʼn pizzasteen besit, plaas dit vooraf in die oond om warm te word. So help dit dat die basis van die tertjies bros en deurgaar bak.

Besoek Annelien Pienaar se webwerf en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karlahari ·

Help my reg.
Is dit vla-tertjies of vlatertjies?
Met eerste oog opslag het ek dit gelees soos “flatertjies”….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.