Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Spesery-en-neut-fluweelkoek

Spesery-en-neut-fluweelkoek (Foto: Annelien Pienaar)

Die koek word met min of geen versiersel nie bedien omdat dit so heerlik gebalanseerd soet en klam is.

Toe ek hierdie resep ontwikkel het, was die gedagte om ʼn oop en sagte struktuur aan ʼn tradisionele botterkoek te gee; daarmee saam was ek lus vir ʼn klappergeur en ook ʼn bietjie neutmeel by vir ekstra vogtigheid. Die olies in die neute en klapper sypel uit as dit verhit word tydens die bakproses en gee vir ons een dekadente, heerlike sagte smelt-in-die-mond-krummel.

Lewer 1 groot ringkoek, 12 kolwyntjies (bak vir 25 min) of 2 piesangbrood-grootte broodjies (bak vir 35 min).

Bestanddele

  • 5 ekstragroot eiers, geskei en by kamertemperatuur
  • ½ t kremetart
  • 400 g (2 k) witsuiker
  • 250 g (1 k plus 2 e) botter by kamertemperatuur (of bakkersmargarien met ʼn 80%-vetinhoud)
  • 5 ml vanielje- of karamelgeursel
  • 1 k karringmelk/kefir/ongegeurde jogurt
  • ½ t koeksoda
  • 2 t bakpoeier
  • 2 k koekmeel
  • 2 e kaneel
  • 1 t gemmerpoeier
  • ½ t neutmuskaat
  • 1 k fyn klapper
  • 1 k pekanneute, fyn gekap (amper so fyn soos pekanneutmeel, maar nog hier en daar ʼn growwigheid)
  • 3 knippies sout

Metode

  1. Voorverhit oond tot 170 °C en smeer ʼn ringkoekpan.
  2. Klits die eierwitte met die kremetart tot punte vorm. Hou eenkant.

Wenk: Die eierwitte is gereed sodra die menger se spaan se merkies wys in die meringue – stop dan dadelik. Elke menger en handelsmerk werk anders; so staan by jou menger en hou dit dop vir hierdie stap. Eierwitte wat te styf geklits word, is jou grootste vyand as dit kom by struktuurprobleme.

  1. Klits die suiker en botter eers teen ʼn stadige spoed vir 2 minute totdat dit goed gemeng is om te voorkom dat die botter uit die bak skiet. Verhoog die spoed van die menger en verroom vir 5-8 minute op matige spoed. Sodra die mengsel mooi lig is, voeg al die eiergele by en klits weer goed deur vir ongeveer 3 minute tot lig en donsig.
  2. Voeg die geursel by en klits weer goed deur.
  3. Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda, kaneel, gemmer, neutmuskaat en sout saam. Roer die klapper en neute by die meelmengsel, hou eenkant.
  4. Meng die karringmelk by die verroomde eier-en-suikermengsel en roer goed deur.
  5. Meng die meelmengsel by en roer goed deur met ʼn deegskraper. Vou die eierwitte in en skep in voorbereide panne.
  6. Bak die koek vir 35 tot 40 minute tot gaar.
  7. Laat die koek vir 10 minute in die panne afkoel voordat dit op ’n koekbord ontvorm word.

Hierdie spesifieke pan kan hier aanlyn bestel word.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.