Bêremengsels is een van die items hoog op my prioriteitslysie om sodoende vinnig skons, plaatkoekies, pasteideeg en vele meer te maak. Self vervaardigde mengsels soos hierdie en ook ander te vinde in my kookboek Boerekos met ʼn Twist bevat geen preserveermiddels of enige kunsmatige middels wat tot nadeel van jou gesondheid kan wees nie. Die raklewe van hierdie mengsel in die yskas is drie maande.
Basiese bakkersmengsel
Bestanddele
- 1 kg koekmeel
- 10 ml sout
- 20 ml bakpoeier
- 375 g bakkersmargarien of ‑botter, koud en grof gerasper
Metode
- Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en verwerk tot fyn soos broodkrummels.
- Bêre in lugdigte houers in die yskas vir tot drie maande. Gebruik soos nodig.
Kaasskons
Metode
- 1 ½ k bakkersmengsel
- 2 t bakpoeier
- 70 g (½ k) koekmeel
- 125 ml (½ k) volroommelk
- 30 ml (2 e) wit‑ of bruinsuiker
- 1 mediumgrootte eier, geklits
- 1 k cheddarkaas, gerasper
Metode
- Voorverhit oond tot 190 ℃ en smeer ’n bakplaat.
- Meng al die droë bestanddele saam asook die kaas. Maak ’n holte in die meel en voeg die eier en melk by. Meng die bestanddele liggies met twee tafelmesse deur die melk in die meel in te sny. Die deeg moenie oorwerk word nie; indien daar nog deeltjies witmeel sigbaar is, is dit nie ʼn probleem nie.
- Keer deeg uit op meelbestrooide oppervlak en druk plat tot ongeveer 3 cm hoog. Sny met koekiedrukker vorms of maak een groot skon. Plaas op gesmeerde bakplaat en druk res van deeg indien oor is weer liggies aan mekaar en verwerk.
- Bak by 190 ℃ vir 20-25 min.
- Bedien lou warm.
Porsies: 6-12 skons afhangende van grootte wat jy sny. Een groot wiel kan ook mooi lyk, asook deeg in kolwyntjiepannetjies gebak. Geniet en speel lekker.
Broskorsdeeg
Bestanddele
- 2 k bakkersmengsel
- 1 groot eiergeel
- 4 e koue water
Metode
- Plaas bestanddele in voedselverwerker en draai lem totdat die mengsel ’n bol word. Haal uit en druk plat. Plaas in ʼn sakkie en verkoel vir 20 minute voordat dit uitgerol word.
- Gebruik deeg in alle pasteiresepte soos nodig.
Wenk: Die deeg kan rou gevries word tot ʼn maksimum vier maande.
Porsies: Genoeg vir 12 pasteie van palmgrootte of een groot pastei vir ’n pasteibak.
Plaatkoekies
Metode
- 2 k bakkersmengsel
- 1 t bakpoeier
- 1 ml koeksoda
- 30 ml (2 e) witsuiker
- 200 ml melk
- 1 jumbo‑ of groot eier
Bestanddele
- Klits die bestanddele saam en laat die deeg vir 20 min rus om te verdik.
- Bak lepels vol deeg op ʼn mediumwarm plaat in ʼn kleefvrye pan sonder enige olie.
- Bedien warm.
Porsies: 12 pieringgrootte plaatkoekies.
Bron: Annelien Pienaar
Baie dankie. Dis nou baie handig! :)
Ek soek hierdie resep al lankal! Dankie
Kan jy nie asb meer diabetiese resepte en wenke gee nie.