Soorte resepte:

Gekruisde Paasbolletjies, sinoniem met Paastyd

Jandri met die warm varsgebakte paasbolletjies. (Foto verskaf)

Deur Jandri Barnard

Behalwe vir al die sjokolade-paaseiers in die winkels, laat die rakke vol hot cross buns jou dadelik besef dat Paastyd weer om die draai is. Hierdie tradisionele spesery- en droëvrugte soetbroodrolletjies met ʼn deegkruisie bo-op, oftewel Paasbolletjies in Afrikaans, word volop rondom Paasfees gebak en verkoop in bakkerye en supermarkte.

Tradisioneel word dit geëet op Paasvrydag en merendeels in historiese statebondslande soos die Verenigde Koningryk, Ierland, Australië, Indië, Nieu-Seeland, Kanada en dele van die VSA, asook in Suid-Afrika. In Slowakye en in die Tsjeggiese Republiek word ʼn soortgelyke soetbrood, met kruisdeeg bo-op, (mazanec) ook tradisioneel tydens Paasfees geniet.

Die vroegste verwysings na broodbolletjies met ʼn kruis bo-op, dateer uit die 6de eeu in Griekeland. In die ruïnes van Pompeii, wat in die jaar 79 n.C. vernietig is deur die ontploffing van die Berg Vesuvius, is die oorblyfsels van gekruisde brode in die antieke bakkershuis gevind. Histories is dit egter meer bekend dat die monnik Thomas Rodcliffe van St Albans Abbey in Engeland in 1361 ʼn soortgelyke resep van kaneelbroodrolletjies met ʼn kruis op, bekend as die “Alban Bun”, ontwikkel het om op Goeie Vrydag onder plaaslike behoeftiges te versprei. Oor tyd het dit toe ʼn instelling tydens Paastyd geword, maar is later regdeur die jaar gebak en verkoop.

Dit het so gewild geword dat koningin Elizabeth I van Engeland in 1592 ʼn wet aangekondig het wat die verkoop van hot cross buns oftewel speserybroodjies verbied het, indien dit nie gepaard gegaan het met begrafnisse, Goeie Vrydag of Kersfees nie. Dit was toe slegs in huishoudelike kombuise gebak, want die verkope hiervan het met die heersing van koning James I van Engeland geval onder verbode kosprodukte en is daarom verban tydens ander tye van die jaar. Dit was deels ook gedoen omdat die Britte van die 16de eeu bygelowig was. Hulle het geglo dat hierdie speserybroodjies medisinale eienskappe bevat en dus ʼn soort toorkrag het, en het dit vir siekes gegee om weer gesond te word. Indien jy ʼn hot cross bun saam met jou op ʼn skeepsreis geneem het, sou dit voorkom dat die skip verongeluk. Wanneer jy ʼn hot cross bun tydens Goeie Vrydag bak, sal dit dan ook nie afgaan of muf groei oor die komende jaar nie. As jy dan so ʼn Paastydbroodjie in jou kombuis ophang, sal dit jou huis kan beskerm teen brande en die ander brood wat jy bak sal elke keer perfek uitkom. Hierdie hangende broodjie is dan jaarliks vervang na Paasvrydag.

Jeff besig om die “hot cross bun” bestanddele uit te meet. (Foto verskaf)

Die eerste verwysing na hierdie spesery broodbolletjies as hot cross buns verskyn in die Poor Robin’s Almanac in 1733 – dit was ʼn satiriese almanakreeks wat gedurende die 17- en 18de eeu verskyn het. “Good Friday comes this month, the old woman runs, with one or two a penny hot cross buns.” Dit het wel gekom van ʼn straatskree-advertensie vir die verkoop van hierdie paasbolletjies “one a penny, two a penny, hot cross buns!” waarna hierdie satiriese almanak verwys. Verskeie kleuterrympies is hiervan ontwikkel met verskeie weergawes daarvan, maar die oorlewende gedrukte weergawe het in die London Chronicle van 2 – 4 Junie 1767 verskyn om hot cross buns deel van die volksmond te maak in ʼn kleuterrympie:

“One a penny, two a penny, hot cross buns;

If you’ve no daughters, give them to your sons;

And if you’ve no kind of pretty little elves,

Why then good faith, e’en eat them all yourselves.”

Die verskillende dele van ʼn hot cross bun het verskillende simboliese konnotasies en betekenis gekry. Die kruis bo-op die spesery-paasbolletjie verteenwoordig die kruisiging van Jesus op Paasvrydag, en is tradisioneel gemaak van broskorsdeeg, maar resepte in die 21ste eeu gebruik ʼn eenvoudige pasta van meel en water om die kruis mee te maak. Die speserye daarin verteenwoordig die speserye waarmee Jesus se liggaam gebalsem is vir sy begrawing na sy kruisiging. Lemoenskil, wat ook ʼn tradisionele bestanddeel is, dui op die bitterheid van Jesus se lyding met sy tyd aan die kruis. Die eet daarvan dui ook die einde van ‘Lent’ of die vastydperk, op die Christelike kalender, aan voor Paastyd.

Deesdae is daar verskeie geure en variëteite beskikbaar en jy kan jou verbeelding vrye teuels gee: sjokoladegeur met sjokolade-splinters, koffieboongeur, tropiese droëvrugte met klapper, appel- en kaneelgeure, ekstra speserye bygevoeg of paasbolletjies sonder enige vrugte bygevoeg. Jy kan jou droëvrugte ook oornag week in vrugtesap of drank, soos rum of brandewyn, vir ekstra oemf en geur.

Hier is ʼn basiese paasbolletjie-resep soos gemaak by Jeff Lawrence van Country Bread in Wakkerstroom in Mpumalanga, waar jy jouself bakker kan hou om ʼn soetbroodjie- of croissant-kursus by te woon saam met familie of vriende, en as bonus ʼn wegbreek uit die stad kry tesame met die aanleer van ʼn nuwe vaardigheid.

Jeff plaas die Paasbolletjies op ‘n bakplaat. (Foto verskaf)

Tradisionele Paasbolletjies (24)

  • 1 groot eier
  • 200 g melk
  • 7 g olyfolie
  • 215 g vars gerasperde of geblikte (385 g) appels
  • 200 g sagte botter
  • 835 g koekmeelblom
  • 8 g sout
  • 90 g bruinsuiker
  • 40 g droë kitsgis
  • 10 g fyn kaneel
  • 2 g fyn kardemom
  • 2 g fyn naeltjies
  • 2 g fyn neutmuskaat
  • 2 g fyn gemmer
  • 50 – 100 g Water
  • 250 g gemengde droëvrugte – korente, rosyntjies, lemoenskil (jou eie keuse van kombinasies)

Bestanddele vir die deegkruis:

  • 50g koekmeelblom
  • 70g water

Bestanddele vir die suiker-glasering:

  • 3 eetlepels suiker of heuning
  • 3 eetlepels kookwater

Die Paasbolletjies moet eers rys vir 30 minute voordat dit gereed is om in die oond te bak. (Foto verskaf)

Metode om Paasbolletjies te maak:

  1. Voorverhit die oond tot 200˚C.
  2. Meet die vloeistowwe eerste af in ʼn vlekvryestaal-mengbak. Voeg die melk by die eier, dan die olie, gerasperde appel en sagte botter.
  3. Voeg dan die uitgeweegde droë bestanddele by: koekmeelblom, sout, bruinsuiker en kitsgis.
  4. Voeg die speserye by: fyn kaneel, kardemom, naeltjies, neutmuskaat en gemmer.
  5. Meng alles in ʼn elektriese menger met ʼn deeghaak aan.
  6. Voeg die water eetlepel-vir-eetlepel by totdat die bestanddele gemeng is. Die deeg moet elasties wees, maar nie taai as jy daaraan vat nie.
  7. Vorm die deeg in ʼn bal met jou hande en sit dit dan terug in die mengbak. Bedek dit en los dit om te rys vir ten minste 30 minute.
  8. Rol die deeg dan plat en versprei die helfte van die droëvrugte daarop. Rol die deeg en maak dit weer plat om die oorblywende droëvrugte by te voeg.
  9. Gebruik die ‘draai-en-rolmetode’ om die droëvrugte in die deeg in te meng. Moenie nog meel by die mengsel voeg as die deeg taaier word nie.
  10. Weeg die deeg uit en verdeel die gewig dan om 24 Paasbolletjies te maak – die gewig sal omtrent 80 g elk wees. Plaas die uitgeweegde bolletjies dan teenaan mekaar op ʼn bakplaat met bakpapier op, bedek en laat staan vir ʼn uur.
  11. Meng intussen die koekmeelblom met water om ʼn pasta te maak vir die kruise bo-op. Die deegpasta-beslag moet dan met ʼn spuitsak oor die paasbolletjies gespuit word.
  12. Bak vir 25 minute in ʼn voorverhitte oond of tot goudbruin en gerys.
  13. Maak die suiker-glasering deur gelyke hoeveelhede kookwater te meng met suiker of heuning om ʼn goue suikerstroop te maak. Verf dit dan oor die warm Paasbolletjies, voordat jy dit geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.