Soorte resepte:

Melktert: Gebak of gestol, albei is in die kol!

Daar is twee kante aan ʼn melktert: Die een is warm, romerig en pas uit die oond, en die ander is fluweelglad en koud soos dit uit die yskas kom. Almal het gewoonlik ʼn gunsteling: Gebak of gestol.

Hier is twee resepte wat jy kan probeer as jy nog nie weet wat jou voorkeur is nie.

Korslose yskas-melktert (Foto: Versakf)

Korslose yskas-melktert

Hierdie eenvoudige melktertresep is ingestuur deur een van ons getroue Maroela Media-lesers.

Bestanddele

  • 70 ml mielieblom (Maizena)
  • 2 eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 4 koppies melk
  • 20 ml botter
  • 1 blik kondensmelk
  • kaneel vir bo-oor

Metode

  1. Meng die mielieblom, eiers, vanieljegeursel en ’n halwe koppie van die melk saam in ’n bak.
  2. Gooi oorblywende 3 koppies melk in ’n pot op matige hitte.
  3. Meng botter en kondensmelk saam. Sodra melk begin skuim maak, voeg eiermengsel by en klits.
  4. Verlaag die hitte ’n bietjie om te keer dat dit brand en hou aan om aanhoudend te klits om klonte te voorkom.
  5. Sodra die mengsel verdik het, gooi dit in ’n groot, vlak glasbak.
  6. Strooi kaneel bo-oor.
  7. Laat die melktert afkoel en plaas dit oornag in die yskas.

Die oorspronklike resep is hier op Maroela Media gepubliseer.

 

(Foto: Lapa-uitgewers)

Ouma se gebakte melktert

Lewer 1 groot tert

Bestanddele

KORS

  • 140 g (250 ml) koekmeelblom
  • ʼn knippie sout
  • 2,5 ml bakpoeier
  • 30 ml suiker
  • 75 g (80 ml) sagte botter of margarien
  • 1 eier
  • ʼn paar druppels water, indien nodig

VULSEL

  • 1 liter melk
  • 1 kaneelstokkie
  • 100 g (175 ml) koekmeelblom
  • ʼn knippie sout
  • 60 g (65 ml) botter of margarien
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 1 ml amandelgeursel (opsioneel)
  • 2,5 tot 5 ml vanieljegeursel
  • 4 eiers, geskei
  • 5 ml bakpoeier
  • fyn kaneel om oor die tert te strooi

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ʼn groot tertbak goed met margarien.

KORS

  1. Meng die korsbestanddele in ʼn mengbak en meng met die hand tot ʼn gladde, sagte deeg vorm. Druk die deeg baie dun (amper deurskynend) in die tertbord uit. Plaas in die yskas terwyl die vulsel gemaak word.

VULSEL

  1. Verhit 750 ml melk met die kaneelstokkie tot by kookpunt. Meng die res van die melk met die meelblom tot ʼn gladde pasta. Sodra die melk kook, meng ʼn bietjie van die warm melk met die pasta en meng in die kastrol.
  2. Verhit oor matige hitte tot kookpunt en klits voortdurend met ʼn ballondraadklitser tot ʼn gladde dik sous vorm en laat 2 minute lank stadig prut. Trek opsy en klits die sout, botter of margarien, suiker en geurmiddels by.
  3. Klits die eiergele, klits ʼn bietjie van die warm sous daarby, plaas weer in die kastrol, meng goed en laat afkoel. Moenie dit verder laat kook nie. Klits die bakpoeier by.
  4. Klits die eierwitte totdat dit sagte punte vorm, voeg dit by die koel sous en meng Iiggies tot goed vermeng. Giet die vulsel in die tertbak tot amper vol en strooi kaneel liggies daaroor.
  5. Bak ± 15-18 minute lank, totdat dit goed gerys het, pofferig en goudbruin is, maar nie heeltemal gestol nie.
  6. Skakel die oond af, plaas ʼn lepel in die oonddeur en laat die tert nog 10 minute in die oond om af te koel en stadig te stol.

Bron: Lekker en Vinnig – Tradisionele kos

Uitgewer: Lapa

Oorspronklike resep is hier op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Enige melktert vir hierdie soettand, maar ‘n gestolde een is net so ‘n titseljie lekkerder…

Eend Bessinger ·

Heerlik! Ek is mal oor gestolde melktert, maar ‘n gebakte melktert so af en toe is definitief nie te versmaai nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.