Soorte resepte:

Resep: Aarbei-en-rabarber-krummeltert

Aarbei-en-rabarber-krummeltert (Foto: Lapa-uitgewers)

Sit hierdie tert met vla, styfgeklitste room of roomys voor.

Lewer 8 porsies

Bestanddele

SOET BROSKORSDEEG

  • 1 ¼ k (175 g) koekmeel
  • 2 e (30 ml) versiersuiker
  • ⅓ k (85 g) Clover Mooi River- botter, verkoel en in klein blokkies gesny
  • 1 eiergeel
  • 1 e (15 ml) koue water

VULSEL

  • 500 g rabarber, skoongemaak en grof gekap
  • ¼ k (55 g) strooisuiker
  • 1 vanieljepeul, gehalveer en pitjies uitgekrap
  • 2 e (30 ml) mielieblom
  • 3 e ( 45 ml) Clover Krush-bessiesap
  • 250 g aarbeie, gehalveer

BOLAAG

  • ½ k (70 g) koekmeel
  • ⅓ k (55 g) sagte bruinsuiker
  • 1 t (5 ml) fyn kaneel
  • ⅓ k (85 g) Mooi River-botter, verkoel en in blokkies gesny
  • ½ k (50 g) haselneute, fyn gekap
  • ½ k (50 g) hawermout
  • ½ k (60 g) gemmerkoekies, gekrummel

Metode

SOET BROSKORSDEEG

  1. Meng die meel en suiker in ʼn mengbak.
  2. Vryf die botter met die vingerpunte by die meelmengsel in totdat dit soos fyn broodkrummels lyk. Voeg die eiergeel en koue water by en meng tot ʼn deeg begin vorm.
  3. Vorm ʼn deegbal en bedek met kleefplastiek. Verkoel vir ten minste 30 minute.
  4. Voorverhit die oond tot 200 °C en rol die deeg op ʼn meelbestrooide oppervlak tot 5 mm dik uit.
  5. Smeer ʼn reghoekige, oondvaste tertbak en voer die bodem en kante van die bak met die deeg uit. Verkoel die deeg vir ʼn verdere 20 minute. Plaas die tertbak op ʼn bakplaat en bak blind.

VULSEL

  1. Meng die rabarber, suiker en vanieljepitjies in ʼn kastrol en verhit tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut vir 5 minute of totdat die rabarber sag is.
  2. Meng die mielieblom en die sap tot glad. Roer die mielieblommengsel en aarbeie deur die rabarber.
  3. Kook vir 4 tot 5 minute of tot die mengsel verdik. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Skep die mengsel in die gebakte deegdop.

BOLAAG

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng die meel, suiker, kaneel en botter in ʼn mengbak.
  2. Vryf die botter met die vingerpunte by die meelmengsel in totdat dit soos broodkrummels lyk.
  3. Roer die haselneute, hawermout en koekiekrummels deur die krummelmengsel en strooi dit oor die rabarbertert.
  4. Bak vir 25 minute of tot goudbruin. Sit met vla, styfgeklitste room of roomys voor.

WENK: Hoe om ‘blind’ te bak

Sodra die oondvaste tertbak met die deeg uitgevoer en vir 20 minute verkoel is, word dit met ʼn laag bakpapier gevoer. Vul die tertbak met droë boontjies en bak vir 10 minute teen 200 °C. Verwyder die boontjies en bakpapier en bak vir ʼn verdere 8 tot 10 minute teen 180 °C of tot die deeg deurgebak het. Verwyder uit die oond.

Bron: Gunsteling poedings

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.