Soorte resepte:

Resep: Aarbeikoek met kleurstrooisel

Aarbeikoek met kleurstrooisel (Foto: Lapa Uitgewers)

As jy genoeg tyd op hande het en gereed is vir ’n uitdaging, is dié resep die een vir jou.

Bestanddele

Aarbeikoek

Maak 2 lae van 23 cm in deursnee, 4 van 20 cm in deursnee of 4 van 15 cm in deursnee.

  • 250 ml (1 k) sagte margarien
  • 500 ml (2 k) suiker
  • 2 eiers
  • 10 ml (2 t) suurlemoensap
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 625 ml (2½ k) koekmeel
  • 30 ml (2 e) jelliepoeier
  • 2,5 ml (½ t) bakpoeier
  • 1 ml sout
  • 125 ml (½ k) melk
  • 125 ml (½ k karringmelk)
  • 160 ml fyngemaakte vars aarbeie

Botterversiersel

  • 250 g sagte margarien of botter
  • 250 g versiersuiker, gesif
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Makrolle

Maak 24 makrolle (12 opmekaar geplak)

  • 170 ml amandelmeel
  • 250 ml (1 k) versiersuiker
  • 2 jumbogrootte-eierwitte (kamertemperatuur)
  • 62,5 ml suiker

Aarbeikoek met kleurstrooisel

  • 4 lae aarbeikoek, 20 cm in deursnee
  • 360 g (1 blik) karamelkondensmelk
  • 250 ml (1 k) room, styfgeklits
  • vars aarbeie, in skyfies gesny, om tussen die koeklae te plaas (ongeveer 4 per laag)
  • 1 x botterversiersel
  • 250 tot 500 ml (1 tot 2 k)
  • kleurstrooisel (hundreds and thousands)

Ander benodigdhede

  • silwer 25 cm-koekbord
  • 2 pienk of wit papierstrooitjies (makrolle)
  • 20 cm wit lint
  • 4 klein pienk plastiekwasgoedpennetjies
  • 1 m pienk lint
  • letters van plastiek of plastiese versiersel

Metode

Aarbeikoek

  1. Voorverhit oond tot 180 ˚C.
  2. Verroom die margarien en suiker in ’n groot mengbak.
  3. Klits die eiers saam met die suurlemoensap en vanieljegeursel.
  4. Meng die meel, jelliepoeier, bakpoeier en sout in ’n aparte bak.
  5. Meng die melk en karringmelk in ’n beker.
  6. Voeg die droë bestanddele en die melkmengsel om die beurt bietjie vir bietjie by die margarienmengsel en meng goed. Vou die aarbeie in.
  7. Skep die beslag in gesmeerde koekpanne en bak dit in die voorverhitte oond – ongeveer 30 minute vir die 23 cm-lae, 27 minute vir die 20 cm-lae en 25 minute vir die 15 cm-lae. Toets met ’n toetspen vir gaarheid. As dit gaar is, sal die toetspen skoon uitkom.
  8. Laat dit effens afkoel in die panne. Keer dit dan op die draadrakkies uit om heeltemal af te koel voordat dit versier word.

Botterversiersel

  1. Verroom die margarien of botter en voeg die versiersuiker geleidelik by.
  2. Voeg die geursel by en klits tot lig en donsig.
  3. Voeg 15 ml (1 e) melk of room op ’n slag by indien die versiersel te styf is.

Makrolle (Foto: Lapa Uitgewers)

Makrolle

  1. Klits die amandelmeel en versiersuiker saam in ’n voedselverwerker. Sif die mengsel.
  2. Klits die eierwitte tot skuimerig. Klits die suiker geleidelik by en hou aan klits tot styf.
  3. Voeg die meelmengsel by die eiermengsel en vou deur tot gemeng. Dit is ’n baie belangrike stap – meng jy te min, is die makrolle nie glad nie, meng jy te veel, word dit loperig en die makrolle rys nie. Dit moet ’n lintpatroon maak as jy dit van die spaan af laat loop.
  4. Skep die mengsel in ’n spuitsak en spuit sirkels op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Kap die pan ’n paar keer op die werkoppervlak sodat die lugblasies kan ontsnap. Laat die makrolle ’n halfuur tot ’n uur staan – dit moet ’n droë lagie bo-op vorm.
  5. Voorverhit intussen die oond tot 120 ˚C. Bak die makrolle vir ongeveer 15 minute. Toets só vir gaarheid: lig een op, as dit maklik van die papier af kom, is dit gaar. Laat dit op die bakplaat afkoel.
  6. Smeer vulsel op een makrol en plaas een bo-op. Herhaal die proses met al die makrolle.

Aarbeikoek met kleurstrooisel

Voorbereiding

  1. Bak die koek.
  2. Koop of maak die makrolle. Plak die makrolle twee-twee opmekaar met koninklike versiersel en ’n letter van die naam op elk.
  3. Verbind die twee strooitjies met die stukkie wit lint en knip die pennetjies daaraan vas.
  4. Plaas ’n afkoelrakkie in ’n oondpan vir die kleurstrooiselproses.
  5. Maak die botterversiersel.
  6. Klits die room styf en snipper die vars aarbeie.

Aanwysings

  1. Halveer die koeke horisontaal.
  2. Smeer ’n bietjie botterversiersel op die koekbord en plaas die eerste koeklaag daarop. Smeer karamelkondensmelk en room oor en rangskik aarbeie bo-op. Plaas die volgende laag bo-op en herhaal die proses totdat al die lae gestapel is.
  3. Bedek die koek met die botterversiersel.
  4. Plaas die koek op die afkoelrakkie en druk die kleurstrooisel met jou hande om die rand bo-op die koek vas. Laat die koek in die yskas staan sodat die botterversiersel hard kan word.
  5. Druk die strooitjies met die lint en pennetjies bo in die koek en plak die makrolle met botterversiersel op die koek vas.
  6. Draai die lint om die koek en maak ’n knoop.

Bron: Bak dit self
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.