Soorte resepte:

Resep: Bessie-en-sitrusstroopkoek

Bessie-en-sitrusstroopkoek (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie koek lyk en proe soos somer!
Lewer 12 porsies

Bestanddele

KOEK

  • 225 g sagte botter
  • 225 g strooisuiker
  • 4 eiers
  • fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • 250 g bruismeel, gesif saam met ʼn knippie sout
  • 25 g amandelmeel
  • 100 g bloubessies
  • 100 g frambose

STROOP

  • 120 ml suurlemoensap
  • fyngerasperde skil van ʼn ½ suurlemoen
  • 140 g strooisuiker

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 ° Voer die bodem en kante van ʼn 20 cm vierkantige koekpan met bakpapier en smeer die papier met botter.

KOEK

  1. Room die botter en suiker tot lig en donsig.
  2. Voeg die eiers een op ʼn slag by en klits goed na elke byvoeging. Klits ʼn bietjie meel aan die einde by sodat die mengsel nie skif nie.
  3. Voeg die suurlemoenskil by en vou albei soorte meel in.
  4. Vou ongeveer 45 ml suurlemoensap by om die beslag loperig genoeg te kry.
  5. Vou 75 g van die bloubessies en 75 g van die frambose by die beslag in. Skep die beslag in die voorbereide koekpan en maak die oppervlak gelyk met die agterkant van ʼn lepel. Strooi die oorblywende vrugte oor die beslag.
  6. Bak vir ongeveer 1 uur of tot ʼn toetspen skoon uit die middel kom. Bedek die koek met foelie indien dit te bruin begin bak.

STROOP

  1. Meng die suurlemoensap, -skil en suiker in ʼn kastrolletjie.
  2. Verhit die mengsel oor lae hitte terwyl aanhoudend geroer word. Die suiker moet oplos, maar die stroop moenie borrel nie.
  3. Verwyder die koek uit die oond en steek gaatjies met ʼn toetspen in die koek.
  4. Skep die stroop oor die koek en laat dit effens afkoel. Verwyder die koek versigtig uit die pan, gooi die bakpapier weg en sny dit in 12 porsies. Bedien dadelik.

Resep: Lekker & vinnig: Vrugte

Uitgewers: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.