Bevrore bessies werk net so goed as jy nie vars bessies in die hande kan kry nie. Bessies word net so gevries gebruik.
(Uit: 50 Beste gebak uit Vrouekeur, Marlo Carstens)
Lewer 1 koek
Bestanddele:
Koek
- 250 g sagte botter
- 310 ml strooisuiker
- 4 eiers
- 250 ml suurroom
- 60 ml melk
- 5 ml vanieljegeursel
- 560 ml koekmeel
- 75 ml kakao
- 2,5 ml koeksoda
- 2,5 ml fyn kaneel
- 10 ml bakpoeier
- knippie sout
- 500 ml vars frambose
- 250 ml vars bloubessies
Versiersel
- 250 ml versiersuiker, gesif
- 30 ml kakao
- bietjie kookwater
- paar vars frambose (opsioneel)
Metode:
- 1. Voorverhit die oond tot 180 ̊C.
Koek
- Room die botter en strooisuiker tot liggeel. Klits die eiers een vir een by.
- Meng die suurroom, melk en vanieljegeursel en roer by die bottermengsel.
- Sif die koekmeel, kakao, koeksoda, kaneel, bakpoeier en sout saam.
- Meng die meelmengsel by die bottermengsel tot ’n beslag vorm.
- Skep ongeveer ’n derde van die beslag in ’n ringkoekpan met ’n deursnee van 26 cm wat met kossproei gespuit is.
- Sprinkel die helfte van die frambose en bloubessies bo-oor. Skep weer ’n derde van die beslag bo-op.
- Sprinkel die ander helfte van die bessies bo-oor, gevolg deur die laaste derde van die beslag.
- Bak vir 50 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
- Laat 5 minute in die koekpan afkoel. Keer dan die koek versigtig op ’n afkoelrakkie uit en laat eenkant tot heeltemal afgekoel.
Versiersel
- Meng die versiersuiker en kakao. Roer net genoeg kookwater by tot ’n dikkerige versiersel vorm.
- Skep die versiersel bo-oor die koek en plaas frambose bo-op. Sit in skyfies voor.
Bron: Lekker & Vinnig
Uitgewer: Lapa
Hierdie bessie koek lyk definitief na n wenner!!!