Soorte resepte:

[Resep] Biltong-en-kaasmuffins

(Foto: Lapa-uitgewers)

Dit is nou vakansie! Pak hierdie muffins in jou piekniekmandjie vir ʼn gesinsuitstappie.

Lewer 12 mediumgrootte muffins

Bestanddele:

  • 120 g (250 ml) koekmeel
  • 120 g (250 ml) volkoringmeel
  • ± 500 ml fyngesnyde of gerasperde bees- of wildsbiltong
  • 5 ml sout
  • 3 ml mosterdpoeier (opsioneel)
  • 20 ml bakpoeier
  • 50 g (125 ml gerasperde Cheddarkaas)
  • 200 ml melk
  • 3 eiers
  • 100 ml olie

Metode:

  1. Smeer ʼn muffinpan goed met margarien en voorverhit die oond tot 220 °C.
  2. Meng die droë bestanddele en maak ʼn holte in die middel. Klits die melk, eiers en olie saam en voeg by. Meng goed.
  3. Skep die beslag in die gesmeerde muffinholtes en plaas in die oond. Verlaag die hitte tot 200 °C en bak 15-18 minute of tot goudbruin en ferm, maar nie droog nie.
  4. Laat ʼn paar minute in die pan afkoel, maak los, lig versigtig uit en laat verder op ʼn afkoelrak afkoel. Sit warm of koud voor.

Variasie:

Maak 24 mini-muffins om voor te sit as peuselhappies en pas die baktyd aan om te verseker dat dit nie te droog bak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.