Resep: Bloubessie-marmerkaaskoek

Bloubessie-marmerkaaskoek (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Deftige kaaskoek om die naweek mee af te skop.

Lewer 14 porsies

Bestanddele

  • 300 g Tennisbeskuitjies
  • 140 g botter, gesmelt
  • 275 g strooisuiker
  • 100 g bloubessies
  • 5 ml mielieblom
  • 4 x 230 g-bakkies roomkaas
  • 60 ml koekmeel
  • 3 groot eiers
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 200 ml suurroom

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ʼn vierkantige 20 x 30 cm-koekpan met bakpapier uit.
  2. Maak die beskuitjies met ʼn koekroller of in ʼn voedselverwerker fyn tot krummels.
  3. Voeg die gesmelte botter by die krummels en meng dit goed deur. Skep die beskuitjiekrummels in die voorbereide koekpan en druk dit vas met die agterkant van ʼn lepel.
  4. Meng 25 g suiker en die bloubessies in ʼn kastrol.
  5. Meng die mielieblom met ʼn bietjie koue water en maak seker dat dit geen klonte het nie. Giet die mengsel in die kastrol en verhit stadig tot die suiker opgelos het.
  6. Verhit tot kookpunt en laat vir 2 minute liggies kook tot dit stroperig raak. Hou eenkant sodat dit kan afkoel.
  7. Klits die roomkaas met ʼn elektriese klitser tot glad. Voeg die oorblywende suiker by en klits weer.
  8. Voeg meel, eiers, vanieljegeursel en suurroom by die mengsel. Klits alles goed saam tot dit glad is.
  9. Giet die helfte van die kaaskoekvulsel oor die beskuitjiekors.
  10. Skep die helfte van die bloubessiesous versigtig oor die roomkaas. Skep die oorblywende roomkaas oor die bessiesous en maak glad.
  11. Drup die res van die bloubessiesous oor die bokant van die koek en trek ʼn lepelsteel liggies daardeur om ʼn marmereffek te skep.
  12. Bak die kaaskoek vir 10 minute en verlaag die oond se temperatuur tot 110 °C en bak vir nog 30 minute.
  13. Skakel die oond af en los die kaaskoek vir ʼn verdere 60 minute in die oond.
  14. Maak die oonddeur effens oop en laat die kaaskoek vir die volgende 60 minute in die oond afkoel.
  15. Verwyder uit die oond en hou eenkant om heeltemal af te koel. Verkoel die kaaskoek oornag in die yskas.
  16. Die kaaskoek behoort vir 5 dae goed te hou in die yskas.

Bron: Lekker & vinnig: Vrugte

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae