Soorte resepte:

[Resep] Botterkoekbrood met vrugte

Botterkoekbrood met vrugte. Foto: Carmen se beste resepte

Botterkoekbrood met vrugte. Foto: Carmen se beste resepte

Voorbereiding: 20 min 50 min

“Ek het grootgeword met botterkoek – my ma het ons nog die suiker en botter met ʼn houtlepel laat roer tot dit romerig was. Jou arms was later lam, maar daar mag nie ʼn korreltjie suiker te bespeur wees as sy dit tussen haar vingers gerol het nie. Ek hou van vrugte in gebak. Jy kan die vrugte bo-op of binne-in gebruik.” – Carmen Niehaus

Bestanddele:

Koek

250 g botter
250 ml (1 k) strooisuiker
6 eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel of 15 ml (1 e) gerasperde lemoenskil (opsioneel)
750 ml (3 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
200 ml melk of lemoensap

Bolaag (Opsioneel)

7-10 pruime, gehalveer
Versiersuiker vir bo-oor sif
Roomkaasversiersel

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Smeer ʼn broodpan (35 x 13 cm) en strooi met meel.
  2. Room die botter en suiker goed saam tot lig en donsig.
  3. Voeg die eiers een vir een by en klits goed.
  4. Meng die vanieljegeursel of lemoenskil by.
  5. Sif die droë bestanddele twee keer saam, sif dit oor die bottermengsel en vou om die beurt in met die melk of lemoensap.
  6. Skep in die voorbereide broodpan, maak gelyk bo-op en rangskik die vrugte bo-op.
  7. Bak sowat 50 minute of totdat ʼn toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
  8. Laat effens in die pannetjie afkoel, keer uit en laat heeltemal afkoel op ʼn draadrakkie.
  9. Sif versiersuiker oor. Sny in skywe en smeer versiersel oor elke snytjie.

Variasie (Peerkoek)

Skep ʼn bietjie van die beslag in die broodpan. Skil klein pere, hou die steeltjies aan en plaas al in die middel van die broodpan in ʼn ry. Skep die res van die beslag oor en bak tot gaar. Sif versiersuiker oor.

Wenk

Skep die beslag in mini-silikoonkoekpannetjies en bak tot gaar. Sif versiersuiker oor.

Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.