Soorte resepte:

Resep: Eenbak-piesangbrood met grenadellaversiersel

Eenbak-piesangbrood met grenadellaversiersel (Foto: Suidooster-kombuis)

Die gewilde kykNET-sepie Suidooster is nou nie slegs meer op jou televisiestel beskikbaar nie, maar ook op jou kombuistafel! Hier is ʼn lekker resep deur Mrs J, die karakter wat deur Theresa Sedras vertolk word, uit die resepteboek Suidooster-kombuis.

“Ek is baie lief vir grenadellas en gebruik dit baie vir poedings en koeke,” skryf Mrs J in Suidooster-kombuis.

“Daarom is ek so heilig oor my grenadellaheining, die einste grenadellas waaraan Tyron homself gehelp het en moles gemaak het. Maar ons verdien almal ’n tweede kans en nou is ek so lief vir die mannetjie. As ek hierdie piesangbrood met die grenadella-glaze maak praat ons weer oor daai dag.”

Die broodjie word in net een bak aangemaak en dit het ʼn pragtige tekstuur.

Bestanddele

  • 100 g sagte botter
  • 200 ml (175 g) strooisuiker
  • 2 groot eiers
  • 2 of 3 ryp piesangs, fyngedruk
  • 460 ml (225 g) bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 30 ml melk
  • bruinsuiker om oor te strooi

Grenadellaversiersel

  • 240 g (375 ml) versiersuiker
  • pulp van 2 grenadellas

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n broodpannetjie liggies en voer met bakpapier uit.
  2. Plaas al die bestanddele, behalwe die bruinsuiker, in ’n mengbak en klits vir 2 minute tot goed gemeng. Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk en strooi bruinsuiker oor.
  3. Bak in die voorverhitte oond vir 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin. Die broodjie sal ’n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is.
  4. Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op ’n draadrak. As jy grenadellaversiersel wil oorgooi, maak dit aan terwyl die broodjie af koel.

Grenadellaversiersel

  1. Sif die versiersuiker en roer die grenadellapulp by. Voeg net genoeg water by om ’n stywe pasta te vorm. Plaas die bakkie oor ’n kastrolletjie kokende water en roer tot die versiersel vloeibaar is. Giet oor die afgekoelde piesangbroodjie.

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET en kykNET & Kie uitgesaai. Suidooster-kombuis is by die meeste groot boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.