Soorte resepte:

Resep: Eier-in-’n-koppie

Eier-in-’n-koppie (Foto: Versakf)

Hierdie maklike eier-in-’n-koppie-resep moet jy beslis beproef. Die vakansie is in sig en dit is ’n goeie alternatief vir ’n ligte middagete as daar nog ’n groot feesmaal later voorlê. Enige kombinasie van bestanddele, selfs oorskietvleis en groente, kan gebruik word met jou keuse van kaas. Die groente word gesoteer en as vulsel tussen bakkies verdeel, ’n eier bo-op gebreek en dan gestoom.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 3 groter of 6 kleiner porsies

Eier-in-’n-koppie

Bestanddele

  • 10 ml (2 t) Westfalia- gewone avokado-olie
  • 1 ui, gekap
  • 2 murgpampoentjies, in dun skyfies gesny
  • ’n hand vol dwergspinasieblare, fyngesny
  • 1 x 410 g-blik klein witboontjies, gedreineer
  • 15 ml (1 e) gedroogde origanum of 30 ml (2 e) gekapte vars origanum
  • 1 skyf fetakaas, gekrummel
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 6 eiers

Metode

  1. Verhit die olie oor ’n matige hitte in ’n braaipan (gebruik ’n “AMC 24 cm Chef’s pan” sodat die bodem groot genoeg is) en braai die ui en murgpampoentjies tot net sag.
  2. Meng die spinasie, bone en kruie by en braai vir ’n paar minute tot die spinasie net sag word. Verwyder van die hitte, roer die helfte van die feta by en geur met suurlemoensap en swartpeper na smaak.
  3. Verdeel die mengsel tussen ses gesmeerde, groot ramekins of hittebestande bakkies. Kies koppies of bakkies wat sal inpas in ’n kastrol of braaipan, sodat die deksel sal kan toemaak.
  4. Verhit 2-3 cm water in ’n kastrol tot ’n matige hitte sodat dit begin prut. Die bakkies moet so halflyf in die water staan. Toets die bakkies eers vooraf in die water, dat die pan nie te vol is nie.
  5. Breek ’n eier bo-oor in elke bakkie. Krummel die orige feta bo-oor.
  6. Plaas die koppies versigtig in die kastrol en voeg nog kokende water by as dit nodig is.
  7. Bedek met ’n deksel en verminder die hitte. Prut stadig vir 8-10 minute of tot die eiergele gaar is, na jou keuse.
  8. Sit voor met ’n lepeltjie basiliekruidpesto, slaaibestanddele of vars vrugte.

Wenke

1. Berei die bakkies in die oond voor: Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer die bakkies soos hierbo en pak dit op ’n bakplaat. Verdeel die groente en bone tussen die bakkies. Bedek elke bakkie liggies met aluminiumfoelie en bak vir 10-15 minute of tot gestol na jou smaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.