Soorte resepte:

Resep: Geroomde pitmieliegebak

Geroomde pitmieliegebak. (Foto: Lapa Uitgewers)

Kikker jou bykosse met dié mieliegereg op.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 15 ml botter of margarien vir smeer
  • 50 ml droë broodkrummels
  • 50 ml botter of margarien
  • 30 ml koekmeel
  • knippie elk sout, rooipeper en gerasperde neutmuskaat
  • 250 ml melk
  • 3 eiers, geskei
  • 15 ml fyngekapte groen soetrissie (opsioneel)
  • 15 ml fyngekapte rooi soetrissie (opsioneel)
  • 30 ml fyngekapte ui of sprietui
  • 1 x 400 g blik pitmielies, gedreineer of 300 g vars of bevrore pitmielies, gaar en gedreineer
  • 250 ml gerasperde cheddarkaas

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 170 °C en smeer ’n reghoekige of ronde, vlak oondskottel met ʼn volume van 1 liter of ’n 1,5 liter-soufflébak of 8 x 250 ml oondvaste bakkies met botter of margarien.
  2. Strooi genoeg broodkrummels in die gesmeerde bak of bakkies om die bodem en kante goed te bedek.
  3. Smelt die botter of margarien, meelblom en geurmiddels saam. Voeg die melk by en verhit oor matige hitte tot kookpunt. Roer aanhoudend met ’n ballondraadklitser tot ’n gladde, dik sous vorm. Hou eenkant.
  4. Klits die eiergele liggies saam met die soetrissie en ui en voeg dit saam met die mielies en die helfte van die kaas by die sous. Klits totdat dit goed vermeng is.
  5. Klop die eierwitte styf en vou dit liggies by die sous in – die mengsel moet nog skuimerig wees. Giet dit in die voorbereide bak, strooi die oorblywende kaas bo-oor en bak die vlak oondskottel ongeveer 25 minute lank by totdat dit ferm, goudbruin en pofferig is. Bak die soufflé 35-40 minute lank in ’n pan met water totdat dit goed gerys en gestol het.
  6. Indien verkies, keer uit op ’n bord en plaas op ’n opdienbord.

Bron: Braaigeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.