Soorte resepte:

Resep: Groente-en-­eiermuffins

Groente-en-eiermuffins (Foto: Lapa-uitgewers)

“Verhoog jou – en die kleinspan! – se groente-inname op ʼn maklike manier. Jy kan dié muffins ook vooraf maak as kosblikkos vir die skool of werk. Speel rond met verskillende groentes volgens jou voorkeure,” skryf Armand Aucamp in sy tweede resepteboek, Armand kook kaal Volume 2.

Lewer 8 – 10 muffins

Bestanddele:

  • 2 e olyfolie
  • ½ ui, fyn gekap
  • 1 groen soetrissie, gekap
  • 4 broccoli-blommetjies, gekap
  • 100 g sampioene, gekap
  • 1 k babaspinasie, gekap
  • ʼn knippie paprika
  • ʼn knippie knoffelpoeier
  • sout en peper
  • 5 eiers
  • 1 k mozzarella, gerasper
  • 1 e botter
  • vars roketblare en olyfolie, vir voorsit

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Verhit die olyfolie oor matige hitte in ʼn groot pan.
  3. Braai die ui, soetrissie en broccoli vir sowat 5 minute.
  4. Voeg die sampioene en spinasie, asook die paprika en knoffelpoeier by en braai weer vir 5 minute. Geur met sout en peper en verwyder van die hitte.
  5. Klits die eiers baie liggies in ʼn aparte mengbak (verkieslik met ʼn tuit). Roer die mozzarella by. Wenk: Hoe meer jy die eiers klits, hoe meer lug sal daar in die muffins wees.
  6. Smeer die holtes van ʼn muffinpan met die botter. Plaas die muffinpan op ʼn bakplaat sodat jy dit makliker kan hanteer.
  7. Skep ʼn groot eetlepel vol van die groente in elk van die holtes van die muffinpan. Giet nou die eiermengsel in elk van die holtes oor die groente tot driekwartvol (of skep dit met ‘n soplepel oor).
  8. Bak in die oond vir sowat 15 minute.
  9. Sit voor met vars roketblare wat met olyfolie bedruip is.

Bron: Armand kook kaal Volume 2 deur Armand Aucamp
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.