Soorte resepte:

Resep: Leoni de Coning se melktertkombinasie

Leoni de Coning se melktertkombinasie. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vir Nasionale Melktertdag (27 Februarie) sy lesers gevra om hulle spesiaalste, oorspronklikste of gewildste melktert-oomblikke te deel.

Maroela-leser Leoni de Coning het die verhaal oor haar gekombineerde melktertresep gedeel, waarna lesers wou weet hoe om dié geheime resep te maak.

“Ek het my kleinneef se vulsel gemaak saam met die gebakte tennisbeskuitjiekors van Ouma se resep. Ha! Ha! Ha! My man dink steeds dit is sy niggie se resep (toe nie). Ek reken dit is best of both.”

Maak De Coning se melktertresep só:

Bestanddele

Vir die soet broskors:

  • 125 g botter (kamertemperatuur)
  • 125 ml suiker
  • 1 eier (kamertemperatuur), liggies geklits
  • 500 ml koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 1 ml sout

Vir die melkvulsel:

  • 1 liter volroommelk (langlewemelk is my voorkeur)
  • 65 ml botter
  • 3 eiers
  • 100 ml suiker
  • 25 ml mielieblom
  • 45 ml vlapoeier
  • 5 ml vanieljegeursel

Metode

  1. Vir die soet broskors: Verhit oond op 200 °C.
  2. Verroom die botter en suiker tot lig en romerig.
  3. Klop eier in die mengsel tot deeglik gemeng.
  4. Voeg gesifte koekmeel, bakpoeier en sout by, knie liggies met die hand.
  5. Vul twee mediumgrootte oondvaste bakke met die deeg. Prik met ʼn vurk en verkoel sowat 10 minute in yskas om inkrimping te verhoed. (Nota: die deeglagie moet baie dun wees. Daar bly altyd deeg oor; ek maak konfytkoekies daarmee.)
  6. Bak vir 10 tot 15 minute of tot ligbruin. Afhangende van die soort oond.
  7. Vir die melkvulsel: Plaas melk en botter in kastrol en bring geleidelik tot kookpunt en verwyder van hitte. (Moenie op hoë hitte kook nie, die melk sal onder vasbrand. Geduld is die groot geheim.)
  8. Klits eiers, suiker, mielieblom, vlapoeier en vanieljegeursel deeglik.
  9. Gooi die eiermengsel baie stadig en geleidelik in die warm melkmengsel terwyl jy dit aanhoudend roer en dit goed deurgemeng is. Indien jy dit te vinnig bygooi, kan die mengsel skif of klonte maak. (ʼn Handklitser (whisk) werk die beste.)
  10. Plaas terug op stoofplaat op matige tot lae hitte en roer aanhoudend tot die mengsel verdik (weereens met baie geduld).
  11. Vul die twee bakke met die gebakte (effens afgekoelde) kors.
  12. Sprinkel kaneel oor en laat afkoel.

Leoni de Coning se konfytkoekies (links) (Foto: Verskaf)

Wenk: Jy kan hierdie konfytkoekies met die oorblywende deeg maak. Rol die deeg in klein balletjies en druk ʼn holte met jou vinger. Vul die holtes met enige konfyt van jou keuse. Ek het ook al gekapte neute in die deeg gemeng of ʼn bietjie kakaopoeier vir ʼn sjokoladevariasie. Die klein koekies is ideaal om vir gaste met tee of cappuccino voor te sit.

Het jy ʼn resep wat jy met ons kan deel? Stuur dit hier na Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.