Is jy op soek na idees vir jou kind se kosblik? Probeer dan gerus dié maklike maalvleispoffers.
Lewer sowat 48 poffertjies
Bestanddele
MAALVLEIS
- bietjie olie
- 1 ui, fyn gekap
- 1 ml vars gekapte knoffel
- 400 g maer beesmaalvleis
- 2,5 ml droë gemengde kruie
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 250 ml cheddarkaas, fyn gerasper
POFFERS
- 250 ml melk
- 125 ml olie
- 2 ekstragroot eiers
- 250 ml koekmeel
- 10 ml bakpoeier
- 1 ml Aromat
- knypie sout
- bietjie paprika vir bo-oor
Metode
- Voorverhit oond tot 180 °C en spuit klein muffinpannetjies met kleefwerende kossproei.
MAALVLEIS
- Verhit die olie en soteer ui en knoffel daarin tot sag.
- Voeg maalvleis by en roer tot gaar. Voeg die kruie, sout en peper by en roer deur.
- Verwyder die vleismengsel van hitte en roer die kaas by. Hou eenkant.
POFFERS
- Klits die melk, olie en eiers saam.
- Sif die koekmeel, bakpoeier, Aromat en sout. Meng die meelmengsel en die eiermengsel saam.
- Skep 5 ml-beslag in elke holte van die voorbereide muffinpannetjies.
- Skep ongeveer 5 ml van die maalvleismengsel bo-op die beslag. Skep weer 5 ml van die beslag bo-op. Strooi ‘n bietjie paprika bo-oor.
- Bak vir 15 minute of tot goudbruin bo-op. Sit louwarm voor.
Bron: Oorspronklik gepubliseer in 50 Beste gebak uit Vrouekeur
Uitgewer: Lapa