Soorte resepte:

Resep: Makrolle

Makrolle (Foto: Pixabay)

Makrolle is moeilik om te maak, maar dis die moeite werd om die tegniek baas te raak, want die gekoopte weergawe is baie duur.

Lewer 24 makrolle (12 op mekaar geplak)

Bestanddele

  • 170 ml (¾ k) amandelmeel
  • 250 ml (1 k) versiersuiker
  • wit van 2 jumbo-grootte eiers (kamertemperatuur)
  • 62,3 ml (¼ k) suiker

Metode

  1. Klits die amandelmeel en versiersuiker saam in ʼn voedselverwerker. Sif die mengsel.
  2. Klits die eierwitte tot skuimerig. Klits die suiker geleidelik by en hou aan klits tot styf.
  3. Voeg die meelmengsel by die eiermengsel en vou deur tot gemeng. Dit is ʼn baie belangrike stap – meng jy te min is die makrolle nie glad nie, meng jy te veel word dit loperig en die makrolle rys nie. Dit moet ʼn lintpatroon maak as jy dit van die spaan af laat loop.
  4. Skep die mengsel in ʼn spuitsak en spuit sirkels op ʼn bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Kap die pan ʼn paar keer op die werkoppervlak sodat die lugblasies kan ontsnap. Laat die makrolle ʼn halfuur tot ʼn uur staan – dit moet ʼn droë lagie bo-op vorm.
  5. Voorverhit die oond intussen tot 120 ° Bak die makrolle vir ongeveer 15 minute. Toets vir gaarheid: Lig een op; as dit maklik van die papier af kom, is dit gaar. Laat dit op die bakplaat afkoel.
  6. Smeer vulsel op een makrol en plaas een bo-op. Herhaal die proses met al die makrolle.

Variasie

  1. Vir gekleurde makrolle word jelkleursel druppel vir druppel by die geklitste eierwit ingevou voordat die twee mengsels by mekaar gevoeg word.
  2. Om ʼn pêreleffek of ʼn sweempie sagte kleur te verleen, kan droë poeierkleursel oor die ongekleurde makrolle gevryf word.

Wenk: Om makrolle te maak is nie maklik nie. Wees voorbereid daarop dat die eerste probeerslae kan misluk. Dis egter die moeite werd om die tegniek te probeer baasraak, want die gekoopte weergawe is baie duur.

Bron: Bak dit self deur Marlene Schoeman

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.