Soorte resepte:

Resep: Pannekoek met sjokoladegeur bakkersvla

(Foto: Pixabay)

Die vulsel word gemaak uit witsjokolade en vla, en is heerlik saam met vrugte.
Lewer 6 porsies

Bestanddele

PANNEKOEK

  • 1 k (240 ml) Clover The One-laevetmelk
  • 2 eiers
  • ¼ t (2 ml) vanieljegeursel
  • ⅔ k (105 g) koekmeel
  • 2 e (30 g) strooisuiker
  • 2 e (30 g) Clover Butro-bottersmeer, gesmelt

Om te bak:

  • 2 e (30 g) Clover Butro-bottersmeer, gesmelt

VULSEL

  • 100 g witsjokolade, gesmelt
  • 250 ml klaarbereide vla
  • ½ k (125 ml) Clover-room, styf geklits
  • 2 t (10 ml) gelatienpoeier, in 45 ml koue water gespons

Metode

  1. Klits die melk, eiers, en vanieljegeursel saam in ʼn beker.
  2. Sif die meel in ʼn groot bak en roer die suiker deur.
  3. Maak ʼn holte in die meelmengsel en voeg die melkmengsel geleidelik by. Klits tot dit goed gemeng is.
  4. Voeg die eerste hoeveelheid gesmelte botter by en meng goed. Laat die beslag in die yskas rus tot benodig.
  5. Verhit ʼn groot swaarboompan oor matige hitte. Smeer die pan met die oorblywende gesmelte botter. Giet 45 ml van die pannekoekbeslag in die pan en kantel die pan heen en weer sodat die beslag die bodem van die pan bedek.
  6. Bak die pannekoek vir 30 sekondes aan elke kant en skep op ʼn bord uit. Bedek die pannekoek liggies met foelie en hou warm.
  7. Smeer die pan weer soos benodig en herhaal die bakproses met die res van die beslag.

VULSEL

  1. Meng die sjokolade en vla in ʼn mengbak en vou die room in.
  2. Verhit die gelatienmengsel stadig en roer tot heeltemal gesmelt. Giet die gelatienmengsel by die vlamengsel en verkoel in die yskas tot benodig.
  3. Skep lepelsvol van die vlamengsel en vars vrugte soos piesangskyfies, gemengde bessies of geposjeerde koejawels in die pannekoeke. Rol die pannekoek op, sif ʼn bietjie versiersuiker oor en sit voor.

Bron: Gunsteling Poedings

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.