Soorte resepte:

Resep: Piesangbrood

Piesangbrood (Foto: Uitpakkos/Lapa Uitgewers)

ʼn Lekker klam vrugtebrood met ʼn kenmerkende geur.

Lewer sowat 16 snye

Bestanddele:

  • 300 ml/g (3 tot 4) ryp piesangs, fyngemaak
  • 5 ml suurlemoensap
  • 80 g (1 klein) groen appel, gerasper
  • 60 ml sagte margarien
  • 5 ml koeksoda
  • 100 ml kookwater
  • 65 g/80 ml suiker
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 1 groot eier, geklits
  • 175 g/350 ml koekmeelblom
  • 5 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 65 g/125 ml volkoringmeel
  • 70 g/100 ml hawersemels (oat bran)

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  1. Plaas die piesang, suurlemoensap, appel, margarien en koeksoda in ʼn groterige mengbak en roer die kookwater by. Laat afkoel.
  2. Roer die suiker, geursel en eier by die piesangmengsel.
  3. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam en roer die volkoringmeel en hawersemels by. Voeg die droë bestanddele by die piesangmengsel en roer liggies om te meng.
  4. Skep dit in ʼn gesmeerde 1 ℓ- of 20 x 10 cm-broodpan en maak gelyk.
  5. Bak dit vir 40 minute en toets vir gaarheid. Verlaag die oondtemperatuur na 160 °C en bak 10 tot 15 minute tot goudbruin en gaar. Laat die piesangbrood vir 10 minute in die pan afkoel en keer dit op ʼn draadrakkie uit om verder af te koel.

Variasie:

Voeg 125 ml/50 g neute en/of 50 ml/30 g rosyne of sultanas in stap 3 by.

Hoe kan ek dit inpak en bêre?

Die brood hou 4 tot 5 dae indien dit in ʼn lugdigte houer gebêre word en kan ook 3 maande bevries word. Jy kan ook die brood klaar in snye sny en dan volgens behoefte verpak en bevries. Dit kan steeds bevrore in die kosblik gepak word vir teetyd of middagete.

Bron: Uitpakkos deur Hilda Lategan

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.