Soorte resepte:

Resep: Sjokolade-kondensmelkkaaskoek

Sjokolade-kondensmelkkaaskoek (Foto: Lapa uitgewers)

Hier is die perfekte nagereg vir enige soettand.

Lewer 12 porsies

Bestanddele

Kors

  • 1 x 200 g pakkie Romany Creams-koekies
  • 100 g Mariebeskuitjies
  • 20 ml kakao
  • 90 g Clover Mooi River-botter, gesmelt

Vulsel

  • 2 x 250 g bakkies roomkaas
  • 250 ml Clover-suurroom
  • 1 x 385 g blik Clover-kondensmelk
  • 45 ml koekmeel
  • 3 ekstragroot eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 200 g donkersjokolade, in blokkies gebreek

Vir bo-oor

  • 30 ml kakao
  • pakkie sjokoladebrosballetjies byvoorbeeld 1 x 65 g Chuckles of Whispers, gehalveer

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 160 °C.

Kors

  1. Kap die koekies fyn in ʼn voedselverwerker. Voeg die kakao by en kap weer tot goed gemeng. Voeg die gesmelte botter by en meng weer.
  2. Gebruik die agterkant van ʼn lepel en druk die koekiekrummels op die bodem en sykante van ʼn 22 cm-deursnee losboomkoekpan vas.

Vulsel

  1. Meng die roomkaas, suurroom en kondensmelk goed saam in ʼn mengbak.
  2. Sif die koekmeel en meng dit goed by die roomkaasmengsel.
  3. Klits die eiers en voeg die vanieljegeursel by. Meng die eiermengsel by die roomkaasmengsel.
  4. Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond vir 2 minute teen 50% krag. Roer die mengsel na elke minuut. Mikrogolf vir nog ʼn paar sekondes indien nodig. Laat die sjokolade ʼn bietjie afkoel en roer dit by die roomkaasmengsel.
  5. Giet die roomkaasmengsel in die koekiekors.
  6. Plaas die koekpan in ʼn groter pan om te keer dat die kaaskoek nie in die oond mors nie. Bak die kaaskoek vir 50 minute (die middel hof nie heeltemal gestol te wees nie).
  7. Laat die kaaskoek vir 20 minute in die oond staan met die oonddeur effens oop. Maak die oonddeur ná 20 minute heeltemal oop en laat die kaaskoek ten volle afkoel.
  8. Wikkel die kaaskoek los uit die koekpan en plaas op ʼn opdienbord.
  9. Sif kakao oor, strooi die gehalveerde brosballetjies oor en bedien.

 

Bron: Ekonomiese gesinskos

Uitgewer: Lapa

Maroela Media spog nou met ons eie resepteboek, Huis-huis. Koop dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.