Soorte resepte:

Resep: Skons

Skons. (Lapa Uitgewers)

Sonder skons is jou familieresepteboek leeg.

Lewer 8 skons

Bestanddele

  • 500 ml koekmeelblom
  • 20 ml bakpoeier
  • 10 ml suiker
  • 2,5 ml sout
  • 2 groot eiers
  • 30 ml sonneblomolie
  • 150 ml karringmelk
  • 20 ml melk of karringmelk vir bo-oor

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 220 °C.
  2. Sif die koekmeel, bakpoeier, suiker en sout saam.
  3. Gooi die eiers en olie in ʼn meetkoppie en vul die vloeistof met ± 75 tot 150 ml karringmelk aan tot 125 ml (4 skons) of 250 ml (8 skons). Klits die eiermengsel saam en sny dit liggies met ʼn mes in die droë bestanddele tot net gemeng – moenie die deeg te veel meng nie.
  4. Bestrooi ʼn deegplank of skoon werkblad liggies met koekmeel en druk die deeg met die vingers uit tot ʼn reghoek van ongeveer 3 cm dik. Sny die deeg in 4 of 8 porsies en plaas dit 1 cm van mekaar op ʼn gesmeerde bakplaat.
  5. Verf van die melk of karringmelk bo-oor die skons en bak dit 12 tot 15 minute tot strooikleurig en gaar.

Variasies

Volkoringskons

Vervang die helfte van die koekmeelblom met volkoringmeel. Voeg die volkoringmeel by nadat die koekmeel in stap 2 gesif is.

Kaasskons

Voeg 2,5 ml paprika of rooipeper by die droë bestanddele in stap 2, voordat dit gesif word. Roer 250 ml of 100 g gerasperde cheddarkaas by die droë bestanddele in stap 2 voordat die vloeistof bygevoeg word.

Vrugteskons

Voeg 80 ml of 50 g vrugtekoekmengsel of pitlose rosyne by die droë bestanddele in stap 2 voordat die vloeistof bygevoeg word. Jy kan die skons soeter maak deur 30 ml suiker by die droë bestanddele in stap 2 te voeg. Vir ʼn speserygeur kan ʼn knippie fyn kaneel, fyn gemmer of gemengde speserye na smaak in stap 2 by die droë bestanddele gevoeg word.

Bron: Uitpakkos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.