ʼn Happie skons is nooit te versmaai nie, veral met môre se bietjie laat-lê…
Lewer 8 skons
Bestanddele:
- 500 ml koekmeel
- 20 ml bakpoeier
- 2,5 ml sout
- 60 ml strooisuiker
- 60 ml sagte botter
- 125 ml melk
Afronding
- 1 eier
- 15 ml melk
Metode:
- Voorverhit die oond tot 200° C en smeer ʼn bakplaat.
- Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Roer dan die strooisuiker by en vryf die botter met jou vingers in.
- Voeg die melk by en meng met ʼn slaplemmes totdat die mengsel aan mekaar kleef, maar moenie te veel meng nie. As die deeg te styf is, voeg nog ʼn bietjie melk by.
- Plaas die deeg op ʼn meelbestrooide oppervlak en druk net effens gelyk met jou hande. Die deeg moet ongeveer 3 cm dik wees.
- Druk ronde vorms uit en plaas op die voorbereide bakplaat.
- Afronding: Klits die eier en melk saam en verf oor die skons. Bak vir 12 tot 15 minute of tot goudbruin bo-op.
Resep oorspronklik gepubliseer in Vrouekeur 2 deur Marlo Carstens.
Bron: Lekker en Vinnig – Teetydlekkernye
Uitgewer: Lapa