Soorte resepte:

Resep: Soet vrugtepizzas

Soet vrugtepizzas (Foto: Lapa Uitgewers)

Elkeen kan sy eie pizza saamstel deur die malvalekkerroom oor die kors te smeer en met vrugte te versier.

Lewer 6 tot 8 porsies

Bestanddele

Kors

  • 200 ml botter
  • 375 ml suiker
  • 5 ml fyngerasperde lemoenskil
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 2 eiers
  • 45 ml melk
  • 4 x 500 ml koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 2 ml sout

Malvalekkerroom (lewer 500 ml)

  • 180 ml strooisuiker
  • 125 ml heuning
  • 60 ml water
  • ʼn knippie sout
  • 2 eierwitte, teen kamertemperatuur
  • 1 ml kremetart
  • 7 ml vanieljegeursel

Bolaag

  • 500 ml malvalekkerroom
  • 250 g roomkaas

Vrugte

  • skyfies kiwivrug
  • skyfies peer
  • bloubessies
  • frambose
  • aarbeie
  • rooi en groen druiwe, gehalveer

Metode

  1. Kors: Voorverhit die oond tot 180 ºc en smeer ʼn bakplaat liggies.
  2. Verroom die botter, suiker, lemoenskil en vanieljegeursel saam tot lig en donsig.
  3. Voeg die eiers een op ʼn slag by en klits goed ná elke byvoeging.
  4. Voeg die melk by en klits dit goed.
  5. Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ʼn mengbak.
  6. Voeg die droë bestanddele by die eiermengsel en meng tot ʼn deeg vorm. Draai die deeg in kleefplastiek toe en druk dit plat. Laat die deeg vir 1 uur in die yskas rus of jy kan dit vir 20 minute vries.
  7. Rol die deeg in ʼn groot reghoek uit op ʼn meelbestrooide oppervlak en druk deegsirkels uit.
  8. Rangskik die deegsirkels op die voorbereide bakplaat en bak dit vir 8-10 minute tot goudbruin.
  9. Verwyder uit die oond en laat dit heeltemal afkoel.
  10. Malvalekkerroom: Meng die suiker, heuning, water en sout in ʼn kastrolletjie. Verhit tot die mengsel 115 ºc op ʼn suikertermometer bereik (sagtebalstadium). Roer af en toe.
  11. Klits die eiers en kremetart saam met ʼn elektriese klitser tot sagte punte vorm. Belangrik: Die geklitste eierwitte moet reg wees sodra die suikermengsel sagtebalstadium bereik.
  12. Verminder die klitser se spoed tot stadig en laat die stroop stadig teen die kant van die bak afloop. Jy kan die klitser se spoed verhoog sodra al die stroop bygevoeg is.
  13. Klits vir ongeveer 5-10 minute tot stywe, blink punte vorm en die mengsel afgekoel het. Voeg die vanieljegeursel by gedurende die laaste minuut van die klitstyd.
  14. Die malvalekkerroom kan dadelik gebruik word of dit kan vir 2 weke in die yskas in ʼn lugdigte houer gebêre word.
  15. Bolaag: Klits die malvalekkerroom en roomkaas saam tot lig.
  16. Bedien die pizzakorse met die malvalekkerroom en ʼn groot bord vrugte. Elkeen kan sy eie pizza bou deur die malvalekkerroom oor die kors te smeer en met vrugte te versier.

Bron: Lekker & vinnig: Vrugte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.