Soorte resepte:

[Resep] Vetkoek

uitgerys

Mareli Visser. Foto: humanrousseau.com

“Ek was nog altyd skrikkerig om dit self te bak, want ek het nog nooit goeie vetkoeke gebak nie – net sulke platterige goed.

Tot Meisiekind, my kombuishelper en hoofbakker, vir my die truuk geleer het: as jy die deegsirkel vorm, moet die middelste deel dunner as die buitenste deel wees. Só vorm ʼn gesonde vetkoek-holte om met vleis te vul. En natuurlik moet die deksel op wees as jy die vetkoeke diepbraai. Nou skrik ek nie meer vir ʼn vetkoek nie,” sê die bobaasbakker, Mareli Visser.

Lewer 10 groot vetkoeke

Bestanddele:

  • 1 kg koekmeel
  • 1 pakkie (10 g) kitsgis
  • 7,5 ml sout
  • 670 ml louwarm water
  • ekstra koekmeel vir knie
  • 2 liter olie vir diepbraai

Metode:

1. Meng die koekmeel, gis en sout in ʼn skottel van 35 cm in deursnee.

2. Voeg 100 ml water op ʼn slag by die meelmengsel. Gebruik die hand waarmee jy die water byvoeg om die skottel vas te hou en antikloksgewys stadig in die rondte te draai, terwyl jy met die ander hand die water by die meel inwerk. Die deeg begin as droë frummels, maar geleidelik raak dit natter totdat die deeg amper te klewerig is om mee te werk.

3. Lig die nat deeg vanaf die skottel se boom, strooi ʼn bietjie koekmeel onderin en knie die deeg met een hand deur dit van buite na binne in te werk terwyl jy steeds die skottel antikloksgewys draai met die ander hand. Hou aan knie – sowat 15 knieë – totdat jy ʼn egalige deegbal het (dit is nie ʼn gladde deegbal nie).

vetkoek

Vetkoek. Foto: Uitgerys.

4. Vou die deeg in ʼn netjiese bal en druk die naat stewig vas. Draai die bal om, sodat die gladde kant bo is.

5. Bedek die skottel met ʼn plastieksak en laat rys die deeg op ʼn warm plek tot drie keer die volume vir sowat 45 minute.

6. Verhit die olie in ʼn middelslagkastrol, met ʼn oliediepte van sowat 10 cm. Toets die olie deur ʼn klein balletjie deeg in die warm olie te gooi. Wanneer die olie warm genoeg is, sal die deegballetjie binne 5 sekondes boontoe styg.

7. Smeer ʼn werkoppervlak met olie. Knyp 10 deegballe van 160 g elk af en plaas op die oliebesmeerde werkoppervlak. Bedek die deegballe met ʼn klam vadoek sodat hulle nie uitdroog nie.

8. Druk elke deegbal met jou duime plat terwyl jy dit in die rondte draai, om só ʼn plat skyf te vorm, wat in die middel sowat 1 cm dik is en aan die kante sowat 1,5 cm.

9. Plaas die deegskywe een-een in die olie en bak 3-4 vetkoeke saam (afhangend van die kastrol se grootte). Sit die kastrol se deksel op.

10. Braai die vetkoeke vir sowat 2 ½ minute aan die een kant tot goudbruin, sonder om die deksel op te lig. Draai die vetkoeke om, sit die deksel terug en braai die ander kant vir 2 ½ minute tot goudbruin.

11. Verwyder die gaar vetkoeke uit die olie, plaas in ʼn oondbak wat met kombuispapier uitgevoer is en hou in die louoond warm tot al die vetkoeke gaar is.

12. Sit warm voor saam met kerriemaalvleis en blatjang.

Bron: Uitgerys deur Mareli Visser
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R300.00
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Annelize ·

ekskuus ek hou nie daarvan om ander mense te kritiseer of iets nie ek het geleer gewone louwarm kraan water werk die beste ek sit swartsak oor myne in mikrogolf eie vetkoeke baie lekkerder as winkel

Kinnie Jacobs ·

o aarde nee, NIE n deksel op kokende olie nie!Dit veroorsaak kondensasie en die olie spat in alle rigtings as die waterdruppels daarop val….mens kan lelik brand!

Amber ·

Kinnie, ek soek ook n verduideliking van daai deksel op die vetkoek. Ek wil en sal dit ook n probeer nie. Water en warm olie is nie maats nie.
Annelize, ek volg ook die swartsak-metode. Dit werk wonderlik.
Ek hou maar die deksel onder in die kas.

Maria Van Dieweeck ·

Ek ken iemand se huishulp wat dit so met die deksel op, maak. Sy doen dit soos n ‘pro’. Die vetkoeke dop hulself sommer om en sy haal net die deksel flink af. Gaan die naweek probeer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.