Hierdie bom kan in die oond as ʼn broodrolletjie gemaak word, óf oor die kole as ʼn roosterkoek.
Bestanddele
- meel
- winkeldeeg
- 2 t blatjang
- 3 t roomkaas
- ½ k biltong, gekerf
- ¼ k mozzarellakaas
- 1 eier, geklits, of melk
- sout en peper
Metode
- Strooi ʼn bietjie meel op ʼn oppervlak en plaas die deeg daarop. Vir ʼn gewone grootte rolletjie, gebruik ʼn deegballetjie so groot soos jou vuis.
- Rol die deeg goed uit op die meel en druk dit met jou hande plat tot jou gewenste grootte bereik is. Die deeg moenie te dun wees nie, want dit skeur dan makliker.
- Smeer die blatjang op die deeg en stip dan met roomkaas.
- Sprinkel lekker baie biltong en kaas op en vou dan die rolletjie toe.
- Verf die rolletjie met melk of eier, geur met sout en peper en plaas dan op ʼn bakplaat.
- Bak vir 20-25 minute teen 180 °C en sit dadelik voor.
Resep: Janie Monsieur