Soorte resepte:

[Resep] Wit-en-bruin sjokoladeroulade

Roulade

Foto: Carmen se beste resepte

Toe ek hierdie sjokoladeroulade op die TV-program, Die Nataniël Tafel, gemaak het, was almal gaande daaroor. Sowel die sjokolade- as meringuerolkoek kry geen meel in nie. Vul dit met jogurt of room.

Bestanddele:

Sjokoladerol

  • 6 groot eiers, geskei
  • 150 g xylitol of strooisuiker
  • 50 g kakao
  • knippie sout
  • 125 ml (½ k) fyn amandels

Vulsel

  • 375 ml (1½ k) Griekse jogurt
  • 50 g donkersjokolade (80 %), gesmelt
  • 100 g vars bessies

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180  ̊C. Spuit ’n rolkoekpan met kleefwerende kossproei en voer dit uit met bakpapier. Spuit weer en bestuif liggies met kakao.

Sjokoladerol

  1. Klits die eiergeel en xylitol of suiker tot lig en romerig.
  2. Vou die kakao, sout en fyn amandels in.
  3. Klits die eierwit in ’n skoon mengbak met ’n skoon eierklitser tot styf, roer ’n bietjie by die eiergeelmengsel in en vou die eiergeelmengsel dan by die eierwit in.
  4. Giet in die rolkoekpan, maak gelyk en bak 20 minute tot sponserig in die middel.
  5. Keer uit op ’n vadoek, trek die papier af en rol op in die vadoek. Laat afkoel.

Vulsel

  1. Voeg sowat 60-125 ml van die Griekse jogurt by die sjokolade en meng goed.
  2. Smeer die sjokoladevulsel oor die rolkoek en smeer van die Griekse jogurt bo-oor. Plaas van die bessies bo-op en rol weer op.
  3. Rond af met ’n smeersel sjokoladevulsel bo-oor en versier met bessies. Stuif kakao oor.

Variasie

Wit roulade

  1. Klits 4 eiers en 180 ml (¾ k) strooisuiker of xylitol tot ’n meringue. Smeer in ’n uitgevoerde rolkoekpan.
  2. Strooi 5 ml (1 t) kaneel, 15 ml (1 e) bruinsuiker en 50 g amandelvlokkies oor.
  3. Bak 10 minute tot die meringue liggies verbruin. Vul en rol die roulade op soos beskryf.

Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.