Soorte resepte:

Gee dié week aandag aan jou soutinname

 

Deur: Janie Monsieur

Wêreldsoutweek vind vandeesweek van 9 tot 17 Maart plaas en in dié week word jy aangemoedig om twee keer te dink oor jou soutinname en die gevolge wat dit vir jou gesondheid kan inhou.

“Die doel van die bewusmaking is om die publiek in te lig oor die negatiewe uitwerking van sout op hul gesondheid en bewus te maak van die verband tussen soutinname en ernstige harttoestande soos beroertes en hartversaking,” lui die Suid-Afrikaanse regering se amptelike webblad.

Daar is ook groter bewustheid oor die verband tussen ʼn dieet met ʼn hoë soutinhoud en maagkanker, osteoporose, vetsug, nierstene en nierversaking.

Navorsing toon dat mans meer sout as vroue inneem en daar is waargeneem dat hulle oor die algemeen ʼn groter geneigdheid tot hoë bloeddruk het. Jong mans wat nie gereeld hul bloeddruk laat toets nie, is dikwels onbewus daarvan. Jonger mans is ook meer geneig om nie op te tree wanneer hul bloeddruk verhoog nie, en ook om nie die nodige medikasie te neem vir hoë bloeddruk nie.

Vanjaar se Wêreldsoutweek se tema is “Hide and seek”. Daar word gekonsentreer op  die voedselbedryf se neiging om baie keer sout in kosse weg te steek (hide) en sodoende die verbruiker te los om self laersoutopsies te moet gaan soek (seek).

Hoewel ons weet ons moet minder sout by ons kosse gooi wanneer ons dit gaarmaak of wanneer ons dit eet, is daar baie versteekte sout in allerhande kosse, onder andere in brood, pap, koek, souse en koekies, wat ons nie eens proe nie. Wanneer ons in restaurante eet, is dit ook baie moeilik om te weet hoeveel sout jy inneem.

Wêreldsoutweek baklei daarvoor dat die kosbedryf meer moet doen om die verbruiker te ondersteun om gesonder te leef.

World Action Salt, wat Wêreldsoutweek bestuur, moedig almal aan om voedselvervaardigings-maatskappye, veral internasionale maatskappye, vandeesweek direk te kontak en aan te dring op kosse met ʼn laer soutinhoud.

“Ons behoort almal te weet hoeveel sout in ons kos bygevoeg word. Restaurante, kafees en wegneemeetplekke moet nutriëntinligting op hul spyskaarte verskaf om die publiek te help om ingeligte besluite te neem en gesonder keuses te kan maak,” skryf World Action Salt op hul webtuiste.

“Ons moedig ook sjefs en restaurantgroepe aan om stelselmatig minder sout by hul disse by te voeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

In studie na studie is bevind dat sout geen nadelige uitwerking het op gesondheid en onder andere bloeddruk nie. Dit is gebaseer op ‘n verouderde valslike aanname dat sout vog absorbeer, bloed “dikker” sal maak, wat dan sal ly tot meer water en dan outomaties hoër bloeddruk. Dit is natuurlik loutere nonsens, maar die mite is genoeg herhaal om dit die waarheid te maak. Die enigste ding wat regtig dodelik is, is ‘n tekort aan sout deur o.a. te veel water te drink wat jou elektrolitiese balans kan versteur. Die oorspronklike “rede” vir die verband tussen hoe sout inname en beroerte is oor Spanjaarde baie sout inneem oor hulle lief is om hulle kos te geur met ‘n spesifieke sout gedroogde vis. Verder is daar bitter min werklike studies gedoen om te bewys sout is gevaarlik. Sout is goedkoop. Hou dop hoe die media hierdie onderwerp gaan tokkel tot vervelens toe en oor ‘n jaar is daar ‘n nuwe soutbelasting! Ons ken teen die tyd die metode. Alles in belang van die publiek se gesondheid.

JouPa ·

Stem 100% saam. Ek gebruik amper 8 gram sout per dag (amper 4x meer as wat hulle aanbeveel) en my bloed druk is normaal weg 110/70. By gesê ek oefen nogals hard en kort meer as normaal. Baie sterkmanne en ander hoë vlak sportmanne gebruik meer as 10 gram per dag. Sout is baie belangrik vir jou liggaam en help om baie prosese te reguleer, bv die kloor in sout is baie belangrik om jou maag suur te help maak en as jy nie genoeg het nie kan dit jou absorpsie van minerale in jou kos verhinder

Chris ·

Jaco, ek stem heelhartig met jou saam. Ons (publiek) word belieg en bedrieg. Vroeër jare was margarine die keuse ipv botter. Sout is die week die onding. Suiker belasting is ingestel. Alles gemik op mark manipulasie en geldmaak. Eiers was ook op ‘n stadium duiwelskos. Sou glo cholestrol verhoor. Daar is slegs een maatstaf. Alles in matigheid. Wat my ook dronkslaan is die dieëte van poeiers wat gereeld op die TV adverteer word. Daar is slegs een manier van gewigs beheer en dit is matigheid en oefening. Jy koop die poeiers ten duurste maar kry ‘n gebalanseerde dieët by. Helllooo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.