Soorte resepte:

Geliefde ‘Masterchef’-aanbieders verlaat reeks

Matt, Gary en George het oor die jare goeie vriende geraak (Foto: Facebook)

Die drie aanbieders van Masterchef Australië, George Calombaris, Matt Preston en Gary Mehigan, wat vir 11 seisoene die gesigte van dié bekende kosmaak-reeks was, verlaat almal die televisieprogram ná onsuksesvolle kontraktuele onderhandelinge.

Dié nuus is Dinsdag, slegs ure voor die finale episode van die elfde seisoen, deur Network 10, ʼn Australiese televisienetwerk, bekendgemaak.

“Ten spyte van maande se onderhandelinge, kon [Network] 10 nie ʼn kommersiële ooreenkoms bereik wat Matt, Gary en George tevrede stel nie,” het die netwerk in ʼn verklaring gesê. “Ons wil graag vir Gary, George en Matt bedank vir hul bydrae oor die afgelope elf jaar.”

Dié drie geliefde beoordelaars het ál drie inskrywings op sosiale media gemaak na afloop van die aankondiging.

“Dit is met ʼn swaar hart dat ek kan bevestig dat seisoen 11 ons laaste sal wees. Ons was almal baie gewillig om aan te hou, maar ons kon nie met alles in die nuwe kontrak saamstem nie,” het Matt geskryf.

Gary, George en Matt tydens ‘Masterchef Australië (Foto: Facebook)

George het laat hoor dat hy dankbaar is vir alles wat die program vir hulle as aanbieders en beoordelaars ingehou het. “Ons was baie naby daaraan om die kontrak vir seisoen 12 te teken, maar die datums het net nie bymekaargekom nie,” het hy gesê.

Gary het beaam wat die ander twee gesê het, en het dit duidelik gemaak dat dit nie oor geld gaan nie. “Dit was tyd om aan te beweeg en om meer vrye tyd te hê om ons kreatiwiteit te verken.

“Dit was nooit oor die geld nie en dit sal nooit oor die geld wees nie. Ons kon nie ooreenstem oor die voorwaardes van die nuwe kontrak vir seisoen 12 nie. Dit is iets waaroor ons al drie sterk gevoel het.”

Gary, Matt en George (Foto: Facebook)

Network 10 het gesê die program sal wel voortgaan met drie splinternuwe beoordelaars.

“Ons kan nie wag om ʼn nuwe groep – en ʼn nuwe generasie van uitsonderlike beoordelaars – in seisoen 12 van Masterchef Australia volgende jaar voor te stel nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat Matt, Gary en George vanjaar van 13 tot 15 September by die Appetite Fest in Pretoria te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ChrisE ·

Dit was ‘n baie goeie besluit van die menere. Jy kan ‘n perd net so ver ry. Hy raak moeg of stort inmekaar. Dit help nie jy hou aan en aan met iets wat vervelig begin raak nie. Dit was ‘n baie goeie program. Selfs ek het dit gekyk.

NetEk ·

:( dit gaan nie die selfde wees sonder hulle nie … kom ons kyk maar wie is die nuwes. Sterkte julle 3jies met watokal julle nou wil aanpak

Joesef ·

Die reeks kan maar stop na season 11, na julle drie weg is. Ek kan nie meer wag vir “an evening with Matt, Gary & George” nie! Lankal ons tickets gebook, sien vir julle amper!!

Heidi ·

Jare lange ondersteuner maar dis tyd vir nuwe gesigte wat weer nuwe asem inblaas.

Johannie ·

Ek en my man gaan die 3 mis!!!! Wie sal hul skoene kan volstaan. Masterchef sal net nie weer dieselfde wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.