Soorte resepte:

Geluk in ‘n eenvoudige maaltyd

Kersfees-kos

Foto: Theorganicprepper.ca

Althea Nel

Dit is wonderlik om te weet ons hoef nie voor God perfek te wees nie. Kersfees bring egter besige skedules, afgematte geliefdes, propvol inkopie-sentrums, haastige kopers en seisoenale take wat eintlik niks met Jesus se geboorte te doen het nie. In al hierdie gejaagdheid, waar vind jy stilte en rustigheid? Waar is jou plek van rus?

Met dankbaarheid kan ons weet ʼn brood-nodige seën verskyn regdeur die Kersfeesverhaal. Dié woord word meer as vierhonderd keer in die Bybel gebruik en is ʼn woord vervleg in al die profesieë van Jesus se koms as ʼn spesiale geskenk aan ons van God. Daardie woord is vrede.

Jesaja het die volgende gesê van Jesus: “5Vir ons is ʼn Seun gebore, aan ons is ʼn Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. 6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.” (Jesaja 9:5-6.

Verder lees ons op die nag van Jesus se geboorte, 13Skielik was daar saam met die engel ʼn groot menigte ander engele, ʼn leërskare uit die hemel, wat God prys: 14“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ʼn welbehae het.” Lukas 2:13-14.

Hierdie belofte van vrede is beslis baie welkom, veral tydens Kersfees waanneer daar soveel is wat ons innerlike vrede kan steel. Die Engelse vertaling van Vredevors is baie treffend:  His name will be called Prince of Peace. — Isaiah 9:5.

Maar wat het die Prins van Vrede met kos te doen? Baie mense verbind Kersfees met ʼn groot maaltyd en baie feesvieringe, wat weer baie konflik en spanning veroorsaak. Jy is beslis nie alleen indien jy so voel nie. Ons is geneig om te dink dat indien ek genoeg geld het, kan ek die beste maaltyd voorsit, waaroor my gaste nog vir maande sal praat.

Veral tydens die Kersseisoen, of soos wat die kommersiële wêreld dit herdoop het na “silly season”, dink mense wêreldse skatte en besittings is die weg na innerlike vrede. Mense dink hulle sal gelukkig wees indien hulle die nuutste katoeter het. Ongelukkig werk planne soos hierdie gewoonlik nie. Wêreldse dinge kan nooit die leegheid in ons harte vul nie en kan nooit verbrokkelde verhoudings herstel nie. Net so kan kos ook nie hierdie rol speel nie. Indien ons harte seer is, kan ons nie ons mae vul met kos en dink dit gaan ons harte en verhoudings herstel nie.

Soos Kersfees naderkom, wat kan ons doen om regtig rus te beleef ten spyte van al die aktiwiteite? Jesus wys vir ons die weg in Johannes 14:27: 27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Jesus se rus is nie gebaseer op omstandighede nie, maar is eerder ʼn buitengewone geskenk waarmee ons geseën word wanneer ons die pad stap saam met Jesus as ons Here. Die goeie nuus is dat Jesus hierdie diep innerlike  rus beskikbaar stel vir almal wat in Hom glo. Daarom kan jy vashou aan Filipense 4:7 “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus”.

My wens vir elke leser is dat jy in hierdie tyd jou verhouding met die Prins van Vrede sal herstel, want daaruit sal ʼn hemelse vrede kom wat ook sal oorspoel na ander verhoudings. Mag ʼn eenvoudige maaltyd berei met liefde en sorg, jou gelukkig maak. Indien jy kos gebruik om jou emosionele seer te herstel, bely dit voor die liewe Vader en vra Hom om jou te help deur hierdie proses om jou verhouding met kos te herstel, want Jesus vul jou hart en jou lewe en kos hoef nie hierdie rol te speel nie. Mag elke maaltyd wat jy berei, uit dankbaarheid wees vir al die seëninge en dat jou fokus op die Prins sal bly! Mag jy ʼn geseënde Prins van Vrede fees ervaar hierdie Desember van 2015.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.