Soorte resepte:

Gesinsdag: Lesers deel hul hartskos

Maroela Media se Huis-huis-resepteboek is nou beskikbaar

Vir onse mense is eet mos ʼn bietjie soos asemhaal. Ons eet as ons bly is en ons eet as ons hartseer is. Ons eet as ons onsself jammer kry én as ons onsself wil beloon. Ons eet as ons saam is en ons eet as ons eensaam is. Ons eet, want dis wie ons is.

In Maroela se resepteboek, Huis-huis, nooi ons jou om saam met ons te kom aansit, in elke vertrek en met elke okkasie.

In die eetkamer sit ons om ʼn mooi gedekte tafel aan vir hoenderpastei, beesbredie, boontjiesop en soetpatats. In die kombuis bak ons ontbytbroodjies en maak hawermoutpap saam met ʼn lekker beker boeretroos, en eet sommer in ons pajamas by die kombuistafel. In die sitkamer raak ons fênsie as die dominee huisbesoek kom doen – dan drink ons tee uit Ouma se Royal Albert-koppies en bedien melktert, dadelbolletjies en sjokoladekoek. Vrydagaande eet ons voor die TV – maklike etes soos Vrydagaand-pasta met Milo-balletjies vir nagereg.

Klik hier om Huis-huis aan te skaf.

Lesers se hartskos

Met Gesinsdag (1 April 2024) om die draai wou ons graag een gelukkige Maroela-leser bederf met ʼn Huis-huis-resepteboek.

Honderde lesers het ons bederf met hul gesinstradisies om die tafel. Daar is melkkos en melktert, afval en skaapnek, groente en pasta en pizza wat self voorberei word.

Baie geluk aan Nariska Schoeman van Piet Retief wat met ʼn Huis-huis-resepteboek wegstap. Sy skryf haar gesin se kostradisie begin altyd met ʼn tafelgebed. “Maandag tot Donderdagaand is ʼn absolute instelling by ons. As jy eet, eet jy by die tafel. Soveel mense doen dit nie meer nie en dan dink ek hoe vreemd dit is. Vrydagaande is ontspanaande, dan eet ons elkeen sommer op ons eie. Saterdag is dit braaidag soos ʼn ordentlike Suid-Afrikaanse instelling. Sondagmiddag is dit die bekende Sondagskaapboud (hoender op die spit) en Sondagaand ʼn soet poeding om die naweek af te sluit en die nuwe week te begin.”

Baie geluk, Nariska! Ons hoop dat julle as gesin inspirasie sal put uit julle nuwe resepteboek en dat julle sommer saam-saam ʼn nuwe gereg of soet poeding sal aanpak.

Lees gerus ʼn keur uit die res van die inskrywings wat ons ontvang het. Ons wens ons kon julle elkeen bederf met ʼn boek!

  • Vivia Grobbelaar van Krugersdorp sê daar is letterlik vir al die seisoene spesiale resepte, maar die tuna-en-macaronibroodresep is baie lekker vir die somer met ‘n slaai daarby. “Dit bly ‘n treffer, en almal is gaande daaroor, selfs die manlike geslag. Het dit selfs ‘n paar keer gemaak vir ‘n doop tot ‘n begrafnis of twee! Dit bedien pragtig omdat jy dit in skywe kan sny, groot of klein en uitstal bo-op blaarslaai in ‘n plat opdienbord. Selfs ‘n visvormbord gee ekstra karakter. Heerlik!”
  • Elize Winterbach van Durban sê van haar kinderdae af is daar by haar ouma se huis op ʼn Sondag gekook: gebakte hoender, gebakte aartappels, boontjies met uie, pampoen, lekker rys en ʼn dik sous van die hoenders wat eers gekook het voor ouma hom gebak het. Dan volg beet en tamatie-en-uieslaai en dan roomys en vla en vrugte vir nagereg. “Vandag is ek 50 en die tradisie leef in my voort. Maak nie saak nie – warm dae, koue dae, swaar dae, Sondagmiddae is ʼn tradisie wat sal voortleef.”
  • Antoinette Krog van Johannesburg skryf: “Vroegoggend het Mams mieliemeel of oats gemaak vir ontbyt. Eiers was net Saterdae met spek en geroosterde broodjies. Weeksaande was dit rys, vleis, aartappels en groente. Vrydagaand was dit wors en mash. Saterdag het ons jafels gehad met kerriemaalvleis of vetkoek as ons nie gebraai het nie. Sondae was dit een keer per maand skaapboud of ʼn lekker skaapkop in die oond met gebraaide aartappels en groente. Dan volg lekker malvapoeding en Kersfeeskoekstruif.”
  • Elmien Brand van Richardsbaai: “Beslis braaivleis op ʼn Saterdagaand met tradisionele aartappelslaai en braaibroodjies. Sowel as bruin sampioene met knoffel en kaas in die oond gebak. En dan gesels ons oor alles wat die week gebeur het in ons besigheidswêreld en wat die planne is vir die komende week.”
  • Amanda Pretorius van Nieu-Seeland sê hulle eet elke aand (Maandae tot Donderdae) aandete saam. “Saterdae is dit braaidag. Ek hou daarvan om blatjanghoender (met Mrs. Balls) en malvapoeding te maak. Die bestanddele kry ek by die Suid-Afrikaanse winkels, anders proe dit net anders! Ek behou ons Afrikaanse kos hier.”
  • Amelia Jansen van Villieria, Pretoria, skryf: “Saterdagaande hou ons snack-aand. Dan word daar stokkies gemaak met kaas, worsies en klein uitjies, gekookte eiers in die helfte gesny met mayonnaise. Biltong, droë wors (in klein stukkies gebreek), beskuitjies met roomkaas, skyfies met doopsous, ‘n bak met sjokoladelekkers (vir die soettande) en ook ‘n bak met vrugte (gewoonlik klein gesny of wat jy sommer so met een hap kan eet – druiwe, aarbeie, gesnyde mango). Drinkgoed is vrugtesap, wyn (vir die ouer garde) en koeldrank.”
  • Elsabe Human van die Paarl sê: “Ons gunstelingkostradisie is nie almal se gunsteling nie. En dis ‘n lekker pot kerrieafval. Ons geniet dit altyd oor Kersfees.”
  • Elize Odendaal van Parys: “Verseker is ons lekkerste kuiertyd om die Sondagmiddagtafel. Lamskenkels, ure stadig gebak tot murgsag en geurig. Saam in die bak het die aartappels en wortels tydsaam gebak tot liplekker, njam! Dan lekker taai rys met ʼn goeie skeut van die vleispot se sous. Waar kan jy beter eet? En dan die groot bederf … Ouma Mart se Roly Poly vir poeding. Sondagmiddagetes saam met hartsmense en ʼn pot vol liefde!”
  • Petro Nortje van Christiana, Noordwes: “As kind was dit Vrydagaande skaaptjoppies met pap en sous terwyl ons fliek teen die sitkamermuur kyk met my pa se rolprojektor. Ons is bederf met Laurel en Hardy, Cowboy-flieks en Manie en Fanie in die vloot, Die projektor was selfs saamgevat as ons gaan kuier het op my oom se plaas in Potchefstroom en dan moes die buitemuur van die huis die muur wees waarteen ons kyk, maar nog steeds met ‘n gebraaide skaapvleisie en pap en sous. Vandag is dit nog steeds een van ons gunstelinggeregte.”
  • Sarita Engelbrecht van Vanrhynsdorp: “So paar jaar terug het my oorlede pa met ʼn tradisie begin, wat ek nog gereeld maak. Een Sondagmiddagete het Pa gesê hy wil ons bederf en ons het gebakte skaapnek, gebakte aartappels, geel rys en groente met witsous gemaak. Dit was so lipleklekker dat ek self die tradisie begin voort sit het. Minstens een keer ʼn maand word my gesin bederf met die lipleklekker skaapnekke en kie.”
  • Leana Smith van Springs: “Sondagaande (veral in die winter) sit almal met ‘n bakkie warm melkkos met baie kaneelsuiker bo-oor. Dit is ook ‘n herinnering aan ons kinderdae op die plaas…”
  • Helga Heyl van Pretoria: “Oukersaand is sinoniem met Peppermint Crisp-tert en Kersdag met tradisionele koekstruif gemaak met drie geure jellie, vla en koekrol. My skoonma se 11 kleinkinders ‘verplig’ my om dit jaar ná jaar te maak! Anders poedings soos malvapoeding is vir ‘gewone’ dae soos Sondae. Net hierdie twee is sinoniem met ons reuse-Kersfeesetes met ouma, haar vyf kinders, vier skoonkinders en 11 kleinkinders!”
  • Elanie Botha van Bellville: “Dit is ons gunstelingfamilie-bymekaarkom rondom ‘n heerlike herderspastei. Gemaak met vars bestanddele en ‘n lekker bros kaaslagie bo-oor. Pure lekkerte. Ons maak dit gewoonlik om ‘n heerlike gebeurtenis te vier of sommer net as die lewe bietjie druk – dit lig altyd die gemoedere.”
  • Hannelie Erasmus van Stilbaai: “Ek kom van die Boesmanland en my ma het ons grootgemaak met die idee dat Saterdagaande gemaak is vir gebakte lamtjops en aartappels in ʼn oondpan. My kind het dit so leer eet met haar kuiers by ouma en ek moes die tradisie voortsit – en nie net af en toe nie! Sy is nou al uit die huis, maar Saterdagaande bly gebakte tjops en aartappel-aande. Pa mag Vrydagaande en Sondae braai.”
  • Hanlie Viviers van Belfast, Mpumalanga: Ons familie is wyd verspreid oor die land, maar lekker familiekos hou ons in gees bymekaar. Ons deel gereeld foto’s op ons familiegroep. Ons kom dan bymekaar vir ‘n heerlike skaapspit. Almal dra by en ons gunsteling op die spyskaart is soetbrode, aartappel en uitjies en kerrienoedelslaai. Dis een groot feestelike familiekuier in die boma in die berg! Ek word op 16 April 60 en ek is kinderlik opgewonde oor die bergmakietie wat volg einde einde van die maand!”
  • Helen van der Linden van Biesiesvlei, Lichtenburg: “Ons het as gesin altyd op ʼn Sondagaand wafels gemaak met heuning en roomys. Vrydagaande het ons tradisioneel melkkos gemaak. Vandag is ek al ʼn ouma en hou nog steeds daarvan om saam met die kleinkinders Vrydagaande melkkos te maak en Sondagaande as hul kom kuier, wafels te maak.”
  • Martha Poller van Walvisbaai skryf: “Om ʼn gesin met drie groeiende kinders kos te gee, is nie altyd ewe maklik nie. En wat gemaak met die bietjies wat elke keer oorskiet? So is my ‘kaasbedryf’ gebore. Vleis en groente wat oorskiet, word gemeng met gebraaide uie. Meng dit met gaar pasta, gooi eier en melk met ‘n pakkie sampioenroomsop by. Bedek met skywe tamatie en dan gerasperde kaas. Siedaar! Dis vanaand kaasbedryf. Wanneer my kinders kom kuier, moet daar iewers op die spyskaart kaasbedryf wees.”
  • Clinton Pretorius van Vanderbijlpark: “Ons as gesin van drie, waar my meisiekind twee jaar oud is, geniet dit om Vrydae ons eie pizza te maak. Ons begin om ons eie deeg te maak, die kleintjie geniet dit verskriklik baie! Dit is lag en speel en uitrol van deeg dat die meel sommer so stofwolke maak! Dan sit ons verskillende bestanddele op en laat ons dogter haar eie bestanddele kies. Wanneer die pizza in die oond is, word pappa gevra om die oondliggie aan te sit, want ons wil graag sit en kyk hoe die kaas smelt!”
  • Lizelle Bekker van Strand: “Daar is vir ons as gesin niks lekkerder as varkiehoender nie. Ons noem dit so, want as die hoender uit die oond kom, sit ons en eet soos varkies die hele hoender op en doop varsgebakte brood in die sous! Dis ‘n eenvoudige resep. ‘n Heel hoender met suurlemoen, olyfolie, knoffel, sout en peper. Gestop met ‘n gesnyde suurlemoen, knoffel en lourierblare. ‘n Paar skyfies suurlemoen, en knoffelhuisies in die pan. En voilà! Die heerlikste varkiehoender ná 90 minute in die oond.”
  • Amoria van Tonder van Boksburg: “My pa was lief om vir mense kos te maak. So wanneer ons ʼn klomp mense was, het hy die lekkerste perfekte gebraaide snoek met suurlemoensap, knoffelbotter en appelkooskonfyt saam in ʼn pot gesmelt, en die sous het hy op die snoek gesmeer terwyl dit braai. Bygeregte was patats in die oond gaargemaak, knoffelbrood en ʼn lieflike groen mengelslaai. Dit was altyd so lekker. Hemelkos. Sal my pa altyd onthou as ek dink aan hierdie gereg. Hy het dit geniet as jy lekker eet. Kosbare herinneringe.”
  • Jaco Steyn van Sasolburg: “My vrou van amper 37 is ʼn huisvrou en ʼn baie goeie kok. Dit is egter nie goed vir my gewig nie. Ek werk die eet van lekker kos teë deur gereeld fiets te ry. Daagliks werk toe en terug en ook elke naweek vroeg Sondagoggende ten minste 80 km. My gunstelinge wat sy maak is bobotie en geelrys, en ʼn fantastiese macaroni-en-kaasgereg met spek in. Baie geregte word so beplan sodat daar ietsie oorbly vir my kosblik werk toe. Skottelgoed was na ete word saam gedoen, dit is ons geselstyd.”
  • Lenchen Plaatjies van Bloemfontein: “My gunstelingkostradisie wat ons begin het op Sondae, is om ʼn heel hoender lekker te spice en dan te rook vir ʼn uur in ʼn driebeenpot op die kole. Dan kuier ons as gesin ook lekker saam. Dit is ʼn sappige, geurige hoender wat daar uitkom. Ons sny hom op, plaas dit op ʼn opdienbord en bedien dit met bykosse, dis lekker warm of koud. Dit wat oorbly word die volgende dag gevlek en word gebruik vir hoendermayonnaise-roosterbroodjies.
  • Almari Conradie van Wellington: “Ek is oorspronklik van die Vrystaat en ons kostradisie is krummelmieliepap met tamatiesmoor en wors gebraai in die pan!”
  • Ina Pretorius van Warden in die Vrystaat: “Ons hou van gebakte kosse in oond, of braaivleis. Alle poedings, koud of warm. Geen fiemies nie. Ons lyk so lekker, want ons eet so lekker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.