Soorte resepte:

Geur en kleur vir jou gesondheid

‘n Verskeidenheid van kruie en speserye vir die kombuis. (Foto: iStock)

Deur Dawid Brand

Daar’s niks soos ’n titseltjie tiemie of ’n takkie roosmaryn om ’n gereg van alledaags na allemintig om te tower nie. Benewens konings van die koskas word kruie en speserye reeds vir eeue ingespan om allerlei kwale te genees. Ons het tien smaakvolle superhelde uitgesnuffel om jou dié winter op ’n natuurlike manier te pantser.

Knoffel (Foto: iStock)

Knoffel

Knoffel hou muskiete weg en verlaag die liggaam se pH-vlakke, cholesterol, bloeddruk en glukosevlakke. Dit verminder ook die risiko vir ’n hartaanval of beroerte.

Waarskuwing: As jy medikasie vir hipertensie gebruik, kan knoffel die uitwerking van die medisyne verhoog (jy kan jouself dus oordoseer). Indien ’n diabeet knoffel gebruik en homself ook met insulien inspuit, kan sy glukosevlakke te laag daal. Indien jy ’n bloedverdunner gebruik (en dalk ook ’n “natuurlike” knoffelaanvulling neem), kan die bloed só verdun dat medici tydens ’n operasie kan sukkel om die bloeding te stop.

Kaneel. (Foto: iStock)

Kaneel

Kaneel stimuleer die spysverteringstelsel en onderdruk aptyt. Dit kalmeer ’n omgekrapte maag en help ook teen naarheid. Kaneel help om bloedsuikervlakke gebalanseerd te hou, wat dit ideaal maak vir mense met diabetes. Boonop is dit propvol antioksidante en help om bloedsomloop te verbeter.

Waarskuwing: Moenie kaneel in oormaat gebruik nie. Dit is ’n wonderlike spesery, maar navorsing dui daarop dat kaneel in die lewer kan ophoop.

Gemmer (Foto: iStock)

Gemmer

Gemmer word dikwels gebruik om naarheid teen te werk. Dit word veral gebruik vir mense wat sukkel met oggendnaarheid, wat die nagevolge van chemoterapie moet hanteer of wat seesiek raak. Dit kan ook gebruik word om koliek, winderigheid, ’n omgekrapte maag, diarree, braking en ’n verlies aan eetlus teen te werk. Gemmer het ook sterk anti-inflammatoriese eienskappe en kan help om pyn te beheer.

Waarskuwing: Gemmer is gevaarlik vir pasiënte wat bloedverdunners gebruik, omdat dit met die stolling van bloed inmeng. Hoë doserings van gemmer kan ook bydra tot abnormale hartritme en bloeddruk. Te veel gemmer kan voorts sooibrand en ’n irritasie in die mond veroorsaak.

Borrie (Foto: iStock)

Borrie

Borrie word as superkos gereken danksy sy vermoë om inflammasie te verminder. Dié goudkleurige spesery is ’n uitstekende detoksifiseerder en daar is wetenskaplike bewyse dat die lewer by die gebruik daarvan baat vind. Soos met knoffel is borrie baie goed om bloedsuikervlakke te stabiliseer en kan boonop help met verslanking.

Waarskuwing: Sommige mense kan ligte newe-effekte ervaar soos ’n omgekrapte maag, naarheid, duiseligheid of diarree.

Tiemie (Foto: iStock)

Tiemie

Dit kan jou bloeddruk verlaag, is ryk aan antioksidante en die vitamien A en C in tiemie help om jou immuunstelsel te versterk. Dit slaan hoesbuie hok en weer ook muskiete af.

Waarskuwing: Tiemie kan lae bloeddruk, hoofpyn, duiseligheid, hartpyn en naarheid tot gevolg hê, en word soms geassosieer met urienweginfeksies.

Roosmaryn (Foto: iStock)

Roosmaryn

Soos tiemie is roosmaryn propvol antioksidante. Roosmaryn word tradisioneel gebruik om die geheue te help, om konsentrasie te verbeter en om stres te verlig, wat dit ideaal maak in eksamentyd. Dit verbeter bloedsomloop, en werk winderigheid en sooibrand teë. Boonop kan dit haargroei bevorder.

Waarskuwing: Groot hoeveelhede roosmaryn kan braking, irritasie van die niere, ’n verhoogde sensitiwiteit vir die son, en ’n allergiese reaksie veroorsaak.

Pietersielie (Foto: David Todd McCarty/Unsplash)

Pietersielie

Pietersielie word soms direk op die vel aangewend om gekraakte of gebarste vel, kneusplekke, gewasse, insekbyte, luise en parasiete te behandel en haargroei te stimuleer.

Waarskuwing: Groot hoeveelhede pietersielie tydens swangerskap moet liefs vermy word.

Rooipeper (Foto: iStock)

Rooipeper

Rooipeper (“Cayenne”) help om maagsuur te alkaliniseer en dien as ’n antioksidant. Dit word dikwels gebruik wanneer mense ’n ontgiftigingsplan volg. Rooipeper help met die voorkoming van kanker, versterk die aarwande en werk as bloedverdunner. Dit help ook om verkoue en griep te behandel, aangesien dit help om verstopte sinusse op te klaar en kan ’n seer keel en hoesbuie verlig. Dit is ideaal vir gewigsverlies omdat dit die metabolisme aanwakker en aptyt onderdruk. Dit help ook om bloeddruk en cholesterolvlakke in toom te hou.

Waarskuwing: Rooipeper kan ook as kapsules ingeneem word om te keer dat dit die slukderm en maag brand.

Salie (Foto: iStock)

Salie

Navorsing dui daarop dat salie breinfunksionering verbeter en help om geheueverlies teen te werk. Boonop bevat dit antioksidante en help om inflammasie te beveg. Dit kan help om cholesterol te verlaag en word tradisioneel gebruik deur vroue wat tydens menopouse met warm gloede worstel.

Waarskuwing: Langdurige of oormatige gebruik van salie (die krui óf olie) kan lei tot rusteloosheid, naarheid, hartkloppings en selfs nierskade.

Oreganum (Foto: iStock)

Oreganum

Oreganum is ryk aan antioksidante en vitamien K wat die liggaam help om infeksies te beveg en beendigtheid te verbeter. Dit help ook om die vorming van bloedklonte te voorkom.

Oreganum word tradisioneel gebruik om menstruasiepyn te verlig en kan ook gebruik word om van skilfers ontslae te raak en insekte af te weer.

Waarskuwing: Sommige mense kan maagkrampe kry indien hulle oreganumolie of die krui gebruik. Mense wat allergies is vir plante van die Lamiaceae-familie (soos ment, laventel, salie en basiliekruid), kan ’n allergiese reaksie hierop ontwikkel.

Hierdie artikel is nie bedoel en moet nie beskou word as mediese advies nie. Raadpleeg altyd jou geneesheer en/of apteker oor die moontlike newe-effekte of reaksie wat kos op jou gesondheid en/of die werking van medisyne kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Kruie en speserye het ‘n baie spesiale plek in ons gebruik daarvan. MATIGHEID was ons lewe in alle situasies die WAGWOORD

Geniet en bly seblief gesond

Baie dankie aan Dawid Brand en MM vir die plasing van die puik berig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.