Soorte resepte:

‘In die sop’ terug vir tweede seisoen

Bertus Basson (Foto: verskaf)

’n Paar Suid-Afrikaanse restaurante trek weer nuwe baadjies aan in die nuutste en tweede seisoen van In die sop.

TV-persoonlikheid en -sjef Bertus Basson is terug as dryfveer agter dié opknappingsprogram.

In die sop is ʼn program wat geskep is om restauranteienaars te help wat hulself in ʼn penarie bevind. Ons ruk enige restaurant reg, van klein koffiewinkels tot groter eetplekke,” het Basson oor die program vertel.

Twaalf Wes-Kaapse restaurante sal trakteer word met ʼn opknappingsbesoek deur Basson en sy span.

Die program ruk restaurante se vere omtrent reg, en voeg sommer ʼn nuwe lagie verf ook by.

“Ons bring drie dae by elke restaurant deur. Die kombuis word skoongemaak, toerusting word opgeknap en vervang en die dekor aangepas.”

Die eienaars pik dikwels ʼn traan wanneer die restaurante in hul nuwe gewaad onthul word.

“Dit is vir hulle soos ʼn nuwe kans in die lewe.”

Basson is passievol daaroor om die eienaars op ’n volhoubare manier by te staan.

“Ons wil graag vir hulle ’n padkaart tot sukses gee. Hulle moet voortbou op die veranderinge wat ons gemaak het.”

Die einste verandering is iets wat Basson benadruk het.

“Verandering en vernuwing is baie belangrik. ʼn Mens sien vinnig wanneer iets nie werk nie. Dit moet verander word.”

Daar is om en by twintig mense in Basson se span, en met harde werk takel hulle die veranderinge aan elke restaurant.

“Dis nie eers meer vreemd as ’n kamera- of klankman inspring en hand bysit nie. Hulle het gereeld ’n verfkwas of twee in die hand,” het Basson geskerts.

Die “berg” wat die sukkelende restaurante moet saamdra, is iets waaroor Basson hom ontferm het.

“Ons vat elke restaurant se spreekwoordelike Everest, en stukkie vir stukkie verander ons dit in ’n molshoop.”

Basson, wat reeds van jongs af ʼn sjef is, het self ’n restaurant, Overture, in Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Die drie bestanddele waarsonder die bekende sjef nie kan sonder nie, is sout, botter en suurlemoen.

Laasgenoemde vergelyk hy met witwyn.

“Dit is verfrissend; probeer dit by jou volgende maaltyd – dit sal die wêreld se verskil maak,” is die raad wat Basson aan Maroela Media uitgedeel het.

  • In die sop is van Woensdag 27 April om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, op die kassie te siene.
  • Volg Basson hier op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Chantel

Sien uit na die nuwe seisoen.