Soorte resepte:

Indonesiese roerbraairys vir Rehane Abrahams

Martelize Brink se Indonesiese roerbraairys. (Foto: Verskaf)

In dié week se episode van ‘Martelize se stamtafel’ kuier die sepiester Rehane Abrahams saam met Martelize Brink. Hulle gesels oor Rehane se Indonesiese herkoms en Martelize sit nasi goreng (roerbraairys van Indonesië) voor.

Maak Martelize se Indonesiese roerbraairys só:

Bestanddele

  • 1 e suiker (palm-, kokosneut- of bruinsuiker)
  • 1 groot ui of groenuie, opgesny
  • 3 knoffelhuisies
  • 1 brandrissie
  • 1 duim gemmer, gerasper
  • 5 ansjovisfilette wat in olie ingelê is (dit vervang die garnaalpasta)
  • 3 e kasjoeneute
  • 4 k varsgekookte basmati-rys
  • 3 e soet sojasous
  • eiers
  • olie vir braai
  • 4 lemmetjieblare (opsioneel)

Metode

  1. Plaas die suiker, ui, knoffel, brandrissie, gemmer en ansjovis in ʼn voedselverwerker en blits tot ʼn pasta.
  2. Braai die kasjoeneute in ʼn droë pan tot ligbruin.
  3. Verhit ʼn pan met ʼn paar eetlepels olie en braai die pasta en lemmetjieblare vir 2-3 minute terwyl jy konstant roer.
  4. Voeg die rys en die soet sojasous by en roer deur.
  5. Sprinkel kasjoeneute bo-oor.
  6. Bak die eiers en sit voor bo-op die dis.

Het jy geweet? Die van “Arend”, “Arends” of “Arendse” verwys nie net na die majestueuse voël nie, maar is ook ʼn spirituele voorstelling vir voorvaders – met konnotasies van krag, statigheid en mooi.

Martelize se stamtafel is Woensdag om 17:00 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.