Soorte resepte:

Junie is wêreld-avokado-maand

Sjokolade-avokado-humus (Foto: South African Avocado Growers’ Association)

Juniemaand is wêreld-avokado-maand en ons vier die lieflike, veelsydige groen vrug in al sy glorie saam met die res van die wêreld.

Avokado’s se geur en tekstuur is enig in sy soort en sy smaak kan moeilik met die van ʼn ander vrug vergelyk word. Dit is ook moeilik om te dink aan ʼn ander vrug wat so veelsydig is soos die geliefde avokado.

Die Suid-Afrikaanse avokado-seisoen is tans in volle swang met ons groen- en swartvel-avokado’s. Nou is die tyd om avokado’s te koop en om behoorlik daarmee te eksperimenteer.

Die meeste van ons het al fyngedrukte avokado op roosterbrood, avokado in slaai, of ʼn heerlike pizza met spek, fetakaas en avokado geëet, maar hier is ʼn paar avokado-resepte waarvan jy dalk nog nie gehoor het nie.

Avonnaisse

Verwerk avokado in ʼn puree saam met ʼn bietjie olie en lemoensap vir ʼn gesonder weergawe as mayonnaise. Jy kan dit in ʼn aartappelslaai gebruik of saam met hoender en avonnaise-toebroodjie maak.

Avokado-sjokoladesous

Vervang die room in sjokoladesous met fyngemaakte avokado. Meng stroop, kakao en klapper daarby in vir ʼn heerlike romerige sjokolade-sous.

Avokado-humus

Blits avokado, kaneel, kekerertjies en kakao saam vir ʼn heerlike, gesonde humus. Jy kan vrugte of beskuitjies daarin doop vir ʼn heerlike voor- of nagereg.

Sop

Verdik jou gewone sop met ʼn bietjie geklitste avokado. Nadat jy die sop gemaak het, meng die avokado in vir ʼn onweerstaanbare dik en romerige tekstuur.

Vreemde kombinasies

  • ʼn Paar repies avokado op ʼn warm wafel, met heuning en roomys is hemels.
  • Voeg avokado by jou oggend smoothie saam met piesang, grondboontjiebotter en gevriesde bessies vir ʼn heerlike romerige tekstuur.

Resep: Sjokolade-avokado-humus

Bestanddele

  • 2 avokado’s
  • 1 blikkie kekerertjies
  • ½ t kaneel
  • 1 k dadels, ontpit en in warm water geweek
  • 4 e kakao
  • 1 t vanieljegeursel
  • 1 t karamelgeursel
  • knippie sout
  • ¾ k water

Metode

  1. Rooster die kekerertjies saam met kaneel en ʼn bietjie sout vir 15-20 minute in ʼn warm oond tot goudbruin.
  2. Dreineer dadels en plaas al die bestanddele, insluitend die geroosterde kekerertjies, in ʼn voedselverwerker en blits tot gemeng. Voeg water by soos nodig om ʼn gladde tekstuur te kry.
  3. Bedien met vrugte, brosbrood of beskuitjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Vervang piesangs met avo’s in die resep vir piesangbrood. Heerlik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.