Soorte resepte:

‘Kokkedoor’ se nuwe braaiseisoen skop eersdaags af

Die uitvoerende burgemeester van die Kaap Agulhas-munisipaliteit, Paul Swart, en Paul Venter, uitvoerende vervaardiger van Homebrew Films, het die deelnemers van die reeks by die nuutgeboude ateljee in Struisbaai verwelkom. (Foto: Leelin Booysen)

Paul Swart, die uitvoerende burgemeester van die Kaap Agulhas-munisipaliteit, het Vrydag die 20 deelnemers aan die nuwe kykNET-kookprogram, Kokkedoor Vuur & Vlam, by die nuwe ateljeegebou verwelkom.

Die produksie van dié lankverwagte seisoen van een van kykNET se gewildste kosprogramme, het Maandag in Struisbaai afgeskop. Die nuwe ateljee is spesiaal vir die reeks by dié gewilde vakansiebestemming se karavaanpark gebou.

Swart het die vervaardigers van die program, Homebrew Films, asook kykNET bedank dat hulle dié kusdorp gekies het vir die produksie van die reeks.

“Daar is geen beter ligging as hierdie een, waar die deelnemers, beoordelaars en kykers so ’n mooi uitsig oor die see het, as vanaf die Struisbaai-karavaanpark nie,” het Swart gesê.

‘Kokkedoor’ se beoordelaars, Kobus Botha en Bertus Basson dié naweek in Struisbaai. (Foto: Verskaf)

Vir Kokkedoor Vuur & Vlam gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei, én hulle gaan die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha moet beïndruk.

Homebrew Films vervaardig ook kykNET-reekse soos Magda Louw, Kwêla, Bravo! en Lui maar op, Belinda, terwyl swaargewigte in die koswêreld soos Herman Lensing en Errieda du Toit ook deel van die Kokkedoor Vuur & Vlam se vervaardigingspan is.

Die Kokkedoor-tafel is vir die eerste keer in 2013 vir kykers gedek en oor die jare het familielede van die reeks, waaronder Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie geurryke vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf.

Kokkedoor Vuur & Vlam sal vanaf Donderdag 23 Julie op kykNET uitgesaai word. Die deelnemers, wat van reg oor Suid-Afrika afkomstig is, se name sal nader aan die tyd bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet 6 ·

Ons sal maar sien. Die meeste nuwe programme op kykNET is maar swak.

Anna84 ·

Sien baie uit na die reeks. Bertus Basson gaan ‘n fantastiese beoordelaar wees.

Vonny ·

Ons love love love al die kokkedore programme.
Trots afrikaans..!
Boer soek n vrou soveel happy troues al.
Die lys is lank!!!
Dankieeer kyknet.

Miena ·

Ek het nie geweet eers dat Kokkedoor Vuur & Vlam n idee is nie – wat nog te se dat hulle deelnemers gesoek het vir die reeks. Ek het nerens gesien dat daar advertensies was wat die publiek aangemoedig het om in te skryf vir die reeks nie en ek is lief vir TV kyk hoor. FOMO!!! Maar nietemin – ek sien uit na die reeks en die nuwe idees wat ek kan neerpen en self gebruik na die tyd… ek praat nie van die braai self nie ek praat van die bykosse…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.