Die mengmetode is een van die belangrikste dele van ʼn resep wat jy móét verstaan om van jou gebak ʼn sukses te maak.
Klits/klop
Volgens die 6de weergawe van die HAT beteken “klits” “met ʼn vurk of spesiale toerusting vinnig deurmekaar roer, deur klopbewegings met ʼn vurk/toestel roer tot skuim maak”.
As ʼn resep van jou vereis om iets te klits, kan jy dit met ʼn vurk of met ʼn klitser doen, en ʼn elektriese klitser kan ook gebruik word.
Dié proses veroorsaak dat lug in die mengsel toegelaat word. Om die meeste van dié proses te maak, kantel jou mengbak effens weg van jou af en hou die klitser effens skuins, só sal jy die maksimum hoeveelheid lug in jou mengsel kry.
Roer
Om ʼn mengsel te roer is bloot om bestanddele deurmekaar te maak totdat dit glad of goed gemeng is. Die HAT beskryf dit as “iets om en om beweeg of deurmekaarmaak”. ʼn Mens kan enige tipe lepel gebruik om bestanddele te roer.
Dit is wel een van die grootste probleme in gebak dat te veel geroer word wanneer vloeistof en droë bestanddele gemeng word. Dit kan jou gebak met luggate en ʼn harder tekstuur laat. Roer dus jou mengsels net tot die bestanddele gemeng is, en nie verder nie.
Invou
Wanneer jy iets in ʼn resep moet invou, moet jy versigtig wees dat jy dit nie oordoen nie. Die hele punt daarvan om iets in te vou is dat jy die lug wat jy ingelaat het deur bv. eierwitte te klits, nou in die res van die mengsel kan inlaat.
Die HAT beskryf dié tegniek as iets “na binne toe vou dat lug daarin opgesluit word”.
Droë bestanddele sal gewoonlik by die geklitste bestanddele gevou word. Gebruik ʼn spatel en beweeg dit stadig in ʼn 8-vorm om iets in te vou. Wanneer die 8-vorm klaar is, smeer die spatel skoon teen die bak en begin weer met die 8. Herhaal dit tot alle bestanddele gemeng is.
Indien jy dié tipe resep te veel meng, sal die lug nie meer in die mengsel wees nie, en dít sal jou tekstuur belemmer.
Verroom
ʼn Resep sal normaalweg van jou vereis om botter of margarien te verroom tot “lig en donsig”. Botter/margarien word dan gewoonlik saam met suiker verroom.
Dié tegniek word die maklikste met ʼn elektriese klitser gedoen, omdat dit baie lug in die proses toelaat.