Soorte resepte:

Kos die hoofkarakter in TV-sjef se kookboek

Herman Lensing (Foto: Verskaf)

“My gesig verskyn selde op die voorblad van my kookboeke, want dit gaan nie oor my nie. Kos is die hoofkarakter in hierdie verhaal,” sê die alombekende TV-sjef Herman Lensing.

Dié kosghoeroe se jongste kookboek, Huiskos, het pas by Penguin Random House verskyn, en volgens Lensing is dit presies wat mense nou nodig het.

“Hierdie is die perfekte geskenk vir Kersfees juis omdat geliefdes en vriende nou rondom die feestafel bymekaar kom. Dit is geregte wat jou aan ʼn huislike atmosfeer herinner.”

Deur sy resepte kommunikeer Lensing met lesers in ʼn taal waarin hy gemaklik is, veral waar mense hulleself in die kombuis tuismaak en dalk, soos hy, ʼn introvert is. “Kos was nog altyd vir my ook ʼn manier om met ander mense te connect.”

Lensing sê dit is moeilik om ʼn gunstelingresep uit te sonder, maar geregte waaraan hy eerste dink, is die lam- en groenboontjiebredies, koperpennie-wortelslaai en ʼn heerlike koekstruifresep.

“Dit is kos wat jou veilig gaan laat voel. Daar is niks fênsie daaraan nie, dit bevat alledaagse bestanddele en die metodes is eenvoudig,” sê Lensing, en voeg skertsend by: “Ek gebruik nie bestanddele waarvan ek nie die naam kan uitspreek nie.”

Die boek bevat meer as 80 resepte: van ontbyt, hoof- en nageregte (soos roomys en selfs basaarpoeding) tot bykos, vleisgeregte, koeke, koekies en beskuit.

Huiskos volg op die uiters suksesvolle Dit proe soos huis, wat in 2019 by Human & Rousseau verskyn het en in 2020 deur die Suid-Afrikaanse Boekpryse as beste niefiksieboek benoem is.

Lensing het in 2020 met Maroela Media gesels oor die koslesse wat hy by sy ma, Susan, geleer het en hoe sy ma se dood eintlik die dryfkrag agter Dit proe soos huis was.

Huiskos is dus ook ʼn blyk van waardering vir al die mense wat my gehelp het om afskeid van my ma te neem. Hoewel ander mense se stories ook hierin vertel word, is die boek op ʼn manier tog outobiografies.”

Omdat hy dié kookboek spesiaal vir lesers geskryf het, is dit vir Lensing ʼn riem onder die hart dat die boek reeds ʼn tweede keer gedruk moes word.

“Ek is baie trots daarop, want die boek bevat ʼn deel van my. Dit is eintlik ontnugterend wanneer mense dink dit is maklik om ʼn klomp resepte bymekaar te maak en in ʼn boek te sit.

“Maar vir my is dit anders. Ek bestee tyd aan elke resep en ek doen moeite met die stories. Daar is ʼn rede vir elke resep en die boek het ʼn baie spesifieke ritme. Ek wil hê lesers moet my boek optel en verlore raak tussen die leesstories, resepte en goeie smake.”

  • Huiskos kos R290 (prys onderworpe aan verandering) en lesers kan dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.